On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

International

Dit reën missiele – maar Zelenski stem in tot beraad met Poetin

───   15:11 Thu, 21 Aug 2025

Dit reën missiele – maar Zelenski stem in tot beraad met Poetin | News Article
Lwif, sowat 90 km van die Poolse grens af, het ook deurgeloop. Foto: X

Nadat Rusland een van die grootste lugaanvalle tot dusver vanjaar op Oekraïne uitgevoer het, herhaal pres. Wolodimir Zelenski sy bereidwilligheid om met pres. Wladimir Poetin van Rusland oor vrede te beraadslaag.

Altesaam 574 Russiese hommeltuie en 40 missiele het oornag verskeie streke in Oekraïne getref, insluitend Kijif, Lwif en Transkarpasië. Oekraïne se lugmag het 577 van die 614 aanvalstuie onderskep, maar sterftes en heelwat skade is aangemeld. 

In Moekatsjewo is ’n Amerikaanse elektronika-aanleg vernietig. Die omvang van die aanval het Pole genoop om sy lugruim vir verskeie ure te beveilig, hoewel geen Russiese bedreiging van Pole se lugruim aangemeld is nie.  

In Moekatsjewo is ’n Amerikaanse elektronika-aanleg vernietig. Foto: X

Lwif is sowat 90 km van die Poolse grens af. Zelenski veroordeel die aanvalle en sê dit toon dat “niks verander het nie” in Moskou se houding. 

Hy herhaal sy bereidwilligheid om in ’n neutrale Europese land met Poetin te vergader – Switserland, Oostenryk of Turkye word genoem – maar hy sluit Moskou en die Hongaarse hoofstad, Boedapest, uit. Zelenski verwerp intussen China se betrokkenheid by enige veiligheidswaarborge weens Beijing se steun aan Rusland.

Die moontlikheid van direkte gesprekke volg op pres. Donald Trump se afsonderlike ontmoetings met albei leiers. Trump het aanvanklik trilaterale gesprekke voorgestel, maar sê nou Zelenski en Poetin moet eerder sonder hom vergader, hoewel hy beskikbaar bly indien nodig.

Zelenski ‘nie wettige leier’

Die Russiese minister van buitelandse sake, Sergei Lawrof, sê Poetin is “gereed” om te vergader, maar alle kwessies moet vooraf op hoë vlak vooraf uitgeklaar – insluitend Rusland se bewering dat Zelenski nie die wettige leier van Oekraïne is nie.

Zelenski sê enige beraad moet voorafgegaan word deur duidelikheid oor veiligheidswaarborge van bondgenote. Amerika se adjunkpresident, JD Vance, sê Europa sal die “leeueaandeel” van daardie waarborge moet aanvaar.

Bronne: BBC, Deutsche Welle, Al Jazeera

OFM Nuus cvs/mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.