International
Appèlhof verwerp Trump se boete, maar handhaaf bevinding oor bedrog─── 14:32 Fri, 22 Aug 2025

Die prokureur-generaal van New York gaan appèl aanteken teen ’n appèlhof in New York se verwerping van die siviele boete van $515 miljoen teen pres. Donald Trump. Dié hof het egter ’n bedrogbevinding teen Trump gehandhaaf.
Die hof het die siviele boete van $515 miljoen teen Trump verwerp en bevind die boete was “oormatig” en ongrondwetlik. Die hof het egter die bevinding van die laer hof gehandhaaf dat Trump en sy maatskappy bedrog gepleeg het.
Die appèlhof het ook ander nie-finansiële sanksies wat Trump opgelê is, gehandhaaf.
In die regsgeding, in 2022 ingestel deur die prokureur-generaal van New York, Letitia James, is Trump daarvan beskuldig dat hy sy netto waarde op finansiële state oordryf het om gunstige belasting- en versekeringsvoorwaardes te verkry.
Die amptelike foto van pres. Donald Trump vir sy tweede termyn. Foto: Amerikaanse regering
Regter Arthur Engoron het Trump beveel om $355 miljoen te betaal, wat met rente tot meer as $515 miljoen gestyg het. Saam met boetes virTrump se seuns, Donald jr. en Eric, het die totaal meer as $527 miljoen beloop.
In ’n skerp verdeelde beslissing het die paneel van vyf regters saamgestem dat die boete die agtste amendement van die Amerikaanse grondwet geskend het, maar bevestig dat Trump, sy seuns, en die senior bestuurders Allen Weisselberg en Jeffrey McConney die “bedoeling gehad het om te bedrieg”.
Regters Dianne Renwick en Peter Moulton het Engoron se nie-monetêre strawwe – soos beperkings op Trump se sakebedrywighede – lof toegeswaai as effektief om die beskuldigdes se sakekultuur te beperk.
‘Totale oorwinning in die prokureur-generaal van New York se skynsaak’
Trump het die uitspraak op Truth Social as ’n “TOTALE OORWINNING” beskryf en die saak as politiek gemotiveerd en “skandelik” bestempel. Eric het dit beaam en op X geskryf: “Totale oorwinning in die prokureur-generaal van New York se skynsaak! Ná 5 jaar van hel het geregtigheid geseëvier!”
Al is die boete verwerp, het die hof die kernbevinding, dat bedrog gepleeg is, gehandhaaf. James het dadelik haar voorneme om te appelleer bevestig en beklemtoon dat die hof die meriete van haar saak bekragtig het.
Twee regters het saamgestem met die gesag en bewyse waarop James gesteun het, terwyl die ander twee haar regsgronde en Engoron se vroeëre bevinding van bedrog bevraagteken het.
Die saak is een van verskeie regstryde waarin Trump in appèlsake gewikkel is, insluitend oor laster-eise deur E. Jean Carroll en ’n strafregtelike skuldigbevinding in ’n swyggeld-saak.
Bronne: The Guardian, Deutsche Welle
OFM Nuus cvs