On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

International

Tiener Sondag heilig verklaar 19 jaar ná sy dood

───   13:56 Fri, 05 Sep 2025

Tiener Sondag heilig verklaar 19 jaar ná sy dood | News Article
Carlo Acutis. Foto: Vatican News

’n Brits-Italiaanse tiener (15) word Sondag 19 jaar ná sy kankerdood die eerste lid van die milleniër-generasie wat deur die Rooms-Katolieke Kerk heilig verklaar word.

Carlo Acutis, wat as ’n “digitale dissipel” beskryf word, is 1991 in ’n welgestelde Italiaanse familie in Londen gebore en het in Milaan grootgeword, waar sy diep Katolieke geloof reeds vroeg na vore gekom het. Nadat hy op die ouderdom van sewe sy Eerste Kommunie ontvang het, het hy daagliks die mis bygewoon, die rosekrans-gebed gedoen en aan eucharistiese (wat te doen het met die geloof in Christus se teenwoordigheid in die gewyde elemente van die Christelike sakramente) aanbidding deelgeneem.

Al het hy daarvan gehou om te stap, videospeletjies te speel en tyd saam met vriende deur te bring, het Carlo kategese gegee en haweloses gehelp. Hy het sy rekenaarvaardighede gebruik om ’n aanlyn uitstalling saam te stel wat meer as 100 eucharistiese wonders uitlig, en so die Katolieke geloof in Christus se werklike teenwoordigheid in die gewyde brood en wyn beklemtoon.

In 2006 is Carlo op 15-jarige ouderdom aan akute leukemie oorlede. Ter ere van sy toewyding aan St. Franciskus is sy liggaam na Assisi verskuif, waar miljoene mense nou sy graf in ’n glaskas besoek. ’n Webkamera stroom die besoeke aan die glaskas direk.

Weg na heiligverklaring

Sy weg na heiligheid het meer as ’n dekade gelede begin en het onder pous Franciskus momentum gekry. 

Carlo is in 2020 “salig” verklaar nadat die Vatikaan die wonderbaarlike genesing erken het van ’n kind in Brasilië wat “deur Acutis se intersessie” op ’n “wetenskaplik onverklaarbare” wyse herstel het.

Verlede jaar het die Kerk sy pad na heiligverklaring finaal gebaan deur ’n tweede wonderwerk aan hom toe te skryf – die volledige genesing van ’n Costa Ricaanse student in Italië van ernstige kopbeserings in ’n fietsongeluk, nadat haar moeder by Acutis se graf gebid het.

Pous Leo sal die seremonie Sondag lei, wat vroeër vanjaar uitgestel is ná pous Franciskus se dood.

Bronne: Mirror, Vatican News

OFM Nuus cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.