On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

International

Hulde vir bewaringsikoon Jane Goodall ná sy op 91 sterf

───   12:27 Thu, 02 Oct 2025

Hulde vir bewaringsikoon Jane Goodall ná sy op 91 sterf | News Article
Dr. Jane Goodall was ook die VN se Boodskapper van Vrede. Foto: VN

Hulde stroom wêreldwyd in vir die wêreldbekende primatoloog en omgewingsaktivis dr. Jane Goodall, wat Woensdag (1/10) in die ouderdom van 91 jaar in Kalifornië in haar slaap oorlede is.

Die legendariese bewaringkundige is aan natuurlike oorsake oorlede terwyl sy in Kalifornië tuisgegaan het, het die Jane Goodall Instituut Woensdag in ’n Facebook-plasing bevestig. Sy was op reis om toesprake te lewer.

Goodall, wat tot kort voor haar dood bly pleit het vir die beskerming van die aarde en alle lewende wesens, het wêreldroem verwerf vir haar baanbrekersnavorsing oor sjimpansees in die Gombe Nasionale Park in Tanzanië. Met haar werk het sy bewys dat sjimpansees gereedskap gebruik, komplekse sosiale strukture het, en emosies soos empatie en rou ervaar – insigte wat die wetenskaplike verstaan van menslike en dierlike gedrag radikaal verander het, berig Newsweek.

Goodall het wêreldroem verwerf vir haar baanbrekersnavorsing oor sjimpansees in die Gombe Nasionale Park in Tanzanië. Foto: X

Sy het in 1977 die Jane Goodall Institute gestig en later die Roots & Shoots-jeugprogram geloods, wat tans in meer as 60 lande aktief is. 

Goodall was ook ’n Boodskapper van Vrede vir die Verenigde Nasies en het haar lewe gewy aan opvoeding, bewaring en etiese leierskap.

In haar laaste openbare uitsprake het sy beklemtoon dat verminderde vleisverbruik een van die kragtigste maniere is waarop individue ’n positiewe impak op die planeet kan hê – ’n boodskap wat sy tot die einde bly verkondig het, berig Parade.

Koninklike hulde

Ook die Britse koninklikes het hulde gebring aan Goodall se nalatenskap. Prins William het in ’n emosionele huldeblyk gesê hy en “ontelbare ander” is deur haar werk geïnspireer, berig Daily Mail.

In ’n persoonlike verklaring het prins Harry en Meghan, die hertogin van Sussex, haar beskryf as ’n “visioenêre humanitêre, wetenskaplike, vriend van die planeet, en vriend van ons.” Hulle onthou hoe sy hul seun, Archie, as pasgebore baba vashou het en “liefde en sorg uitgestraal het na almal wat die voorreg gehad het om haar te ken”.

Die VN, wêreldleiers en die akteurs Leonardo DiCaprio, Jane Fonda en Michael Douglas het hulde gebring aan haar nalatenskap.

OFM Nuus cvs/mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.