On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

International

Memoires 6 maande ná Epstein-slagoffer se selfdood plaas kollig op Andrew

───   10:47 Mon, 20 Oct 2025

Memoires 6 maande ná Epstein-slagoffer se selfdood plaas kollig op Andrew | News Article
’n Foto van prins Andrew en die jeugdige Virginia Giuffre, wat hom groot moeilikheid op die hals gehaal het. Regs is Jeffrey Epstein se voormalige metgesel Ghislaine Maxwell. Foto: X

Die memoires van een van die slagoffers van die Amerikaner Jeffrey Epstein, wat Dinsdag (21/10) net maande ná haar selfdood verskyn, veroorsaak reeds ernstige beroeringe in Brittanje.

Prins Andrew doen nou afstand van sy koninklike titels, insluitend dié van Hertog van York, ná gesprekke met koning Charles. Dié besluit kom kort voor die postuum publikasie van Nobody’s Girl, die memoires van Virginia Giuffre, wat hom van seksuele misdrywe beskuldig. 

Giuffre, wat haar eie lewe vroeër vanjaar geneem het, beskryf in die boek hoe sy as tiener deur Epstein en sy voormalige metgesel, Ghislaine Maxwell, gemanipuleer en misbruik is. 

Die voorblad van die boek, wat Dinsdag in Brittanje verskyn. Foto: X

Sy beweer onder meer prins Andrew het seks met haar gehad toe sy minderjarig was, en hy het dit oënskynlik as sy “geboortereg” beskou. Andrew ontken egter steeds alle bewerings en sê hy doen afstand van sy titels uit respek vir sy familie en sy land. 

Die boek skets ’n ontstellende prentjie van ’n netwerk van magtige individue wat jong vroue uitgebuit het, berig BBC. Giuffre beweer sy het drie keer seks met Andrew gehad, insluitend een keer op Epstein se privaat eiland saam met hom en ander jong meisies, wat skaars Engels kon praat.

Andrew bly onder verdenking weens sy bande met Epstein, veral ná die publikasie van e-posse wat hul kontak ná 2010 bevestig het. Dit is in weerwil van Andrew se bewering hy het hul verhouding beëindig toe hy van die ondersoek teen Epstein bewus geword het. 

Gebruik glo polisie

In een e-pos aan Epstein, gestuur die dag nadat die bekende foto (hiernaas) van hom saam met Giuffre en Maxwell gepubliseer is, skryf Andrew: “Ons is saam hierin.”

Daar is ook vrae oor hoe Andrew toegang verkry het tot Giuffre se persoonlike inligting, insluitend haar Amerikaanse maatskaplikesekerheidsnommer. Die polisie ondersoek hierdie bewerings, insluitend dat hy moontlik hiervoor van die dienste van die Britse polisie gebruik gemaak het, berig The Guardian.

In 2022 het Andrew ’n siviele saak met Giuffre buite die hof geskik vir £12 miljoen, sonder om skuld te erken. Die oorsprong van die fondse bly egter onduidelik, met gerugte wat lui die gestorwe koningin het moontlik bygedra.

‘Nog dae van pyn lê voor’

Druk neem toe op die Britse monargie en parlement om verdere stappe teen Andrew te doen. Aktiviste en sommige LP’s eis hy moet ook van sy prins-titel gestroop word. 

Die groep Republic eis ’n parlementêre en ’n strafregtelike ondersoek.

Met die publikasie van Giuffre se boek, wat nuwe onthullings beloof, erken Buckingham Paleis daar lê nog “nog dae van pyn” voor. Andrew is steeds agtste in die ry vir die troon, maar sy toekoms as lid van die koninklike familie is onseker.

Mensehandel vir seksuele doeleindes

Epstein is in 2008 in Florida skuldig bevind aan die uitlokking van ’n persoon onder die ouderdom van 18 om prostitusie te pleeg. Hy is in 2019 dood terwyl hy op sy verhoor gewag het op aanklagte van mensehandel vir seksuele doeleindes.

Maxwell dien ’n vonnis van 20 jaar uit nadat sy skuldig bevind is aan mensehandel met ’n minderjarige vir seksuele doeleindes, asook verwante aanklagte.

Internasionale politieke figure wie se name in mindere of meerdere mate verbind word met Epstein, hoewel geen van hulle formeel aangekla is nie, sluit in Donald Trump, president van die VSA, sy voorganger Bill Clinton, Al Gore, voormalige Amerikaanse vise-president, en Keir Starmer, Britse premier.

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus cvs/mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.