On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

International

Andrew onthaal seksmisdadigers in koninklike woning

───   12:48 Tue, 28 Oct 2025

Andrew onthaal seksmisdadigers in koninklike woning | News Article
Die gewraakte foto van Harvey Weinstein, Jeffrey Epstein en Ghislaine Maxwell, wat geneem is by Royal Lodge. Foto: X

In ’n nuwe onthulling, wat groot opspraak in die Britse koningshuis veroorsaak, is bevestig dat prins Andrew in 2006 drie berugte figure – Jeffrey Epstein, Ghislaine Maxwell en Harvey Weinstein – by sy privaat woning, Royal Lodge, onthaal het.

Die besoek het plaasgevind tydens sy dogter, prinses Beatrice, se 18’e verjaarsdagviering, ’n maskerbal in Windsor-kasteel. Wat die onthulling vererger, is dat Amerikaanse owerhede reeds twee maande voor die geleentheid ’n lasbrief vir Epstein se inhegtenisneming uitgereik het op aanklagte van seksuele aanranding van ’n minderjarige.

Hoewel daar al vroeër berig is dat die drie Windsor-kasteel besoek het, is dit nou bevestig dat hulle ook by Andrew se privaat woning ontvang is – ’n eiendom wat aan die Crown Estate behoort, maar deur die prins bewoon word. 

’n Foto waarop prins Andrew en Virginia Giuffre verskyn het. Regs is Ghislaine Maxwell. Foto: X

Die Crown Estate is ’n eiendomsportefeulje wat aan die monarg behoort, maar onafhanklik bestuur word. Alle winste vloei na die Britse tesourie.

Volgens berigte het Epstein, Maxwell en Weinstein Royal Lodge besoek voordat hulle na die hoofpartytjie in Windsor-kasteel vertrek het. Die BBC het beeldmateriaal ontleed en bevestig dat die agtergrond op ’n foto waarop die drie verskyn, ooreenstem met die tuin en bome van Royal Lodge. 

Epstein is net agt dae ná die partytjie in Florida in hegtenis geneem. In ’n 2019-onderhoud met BBC Newsnight sê prins Andrew hy was nie bewus van Epstein se regsprobleme toe die uitnodiging uitgereik is nie, en dat Epstein nooit iets daaroor genoem het nie. 

Onthullings in Giuffre-memoires

Die jongste onthullings kom te midde van hernude ondersoeke na Andrew se bande met Epstein, veral ná die postuum gepubliseerde memoires van Virginia Giuffre. 

In die boek, wat onlangs verskyn het enkele maande nadat sy haar eie lewe geneem het, beweer sy dat sy gedwing is om op drie geleenthede seks met die prins te hê – onder meer saam met Epstein en ander jong meisies.

Andrew ontken dat hy ooit onvanpas opgetree het. In 2022 het hy ’n geldelike skikking met Giuffre bereik.

Vrae oor lewenstyl

Daar is toenemende vrae oor hoe Andrew sy luukse lewenstyl finansier, aangesien hy nie meer ’n werkende lid van die koninklike familie is nie. Dit het bekend geword dat hy glo slegs ’n simboliese huurbedrag vir Royal Lodge betaal, hoewel hy na bewering vooruit vir opknappings en huur betaal het.

Buckingham-paleis weier om kommentaar te lewer oor of Andrew moontlik uit Royal Lodge moet trek. Volgens The Independent is daar berig dat hy versoek is om die woning so gou moontlik te verlaat

Adelaide Cottage en Frogmore Cottage is glo as alternatiewe verblyfopsies vir hom en sy voormalige vrou, Sarah Ferguson, voorgestel. Die feit dat Epstein en Maxwell ook vroeër by ander koninklike eiendomme soos Balmoral en Sandringham onthaal is, wek verdere kommer oor hoe diep hul verbintenis met Andrew werklik gestrek het – ’n verhouding wat hom reeds duur te staan gekom het.

Epstein neem eie lewe

Epstein het in Augustus 2019 in ’n tronk in New York sy eie lewe geneem terwyl hy vir sy verhoor op aanklagte van mensehandel met die oog op seksuele uitbuiting gewag het. In 2008 het hy ’n pleitooreenkoms met aanklaers bereik nadat die ouers van ’n 14-jarige meisie aan die polisie in Florida gesê het Epstein het hul dogter by sy huis in Palm Beach gemolesteer.

Maxwell dien tans ’n 20-jaar tronkstraf in die VSA uit vir die werwing van en mensehandel met vier tienermeisies vir seksuele misbruik deur Epstein, haar destydse kêrel.

Weinstein is in New York en Los Angeles skuldig bevind aan seksuele aanranding, maar ’n hof het hom ’n herverhoor op sommige van sy skuldigbevindings toegestaan.

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.