International
Andrew titel en woning kwyt; slagoffer se familie sê dis nie genoeg─── 12:24 Fri, 31 Oct 2025
 
                    
                    
                    
                    
                    
            Virginia Giuffre was ’n gewone Amerikaanse meisie wat nou ’n prins tot ’n val gebring het.
Dit is die reaksie van Giuffre – wat prins Andrew van seksuele misbruik beskuldig het – se familie op die nuus dat Koning Charles III sy broer sy koninklike titel as prins ontneem het. Die besluit volg op die hernude aandag wat bewerings op Andrew se privaat lewe gevestig het.
Dit sluit in die herhaling van ernstige aantygings deur Giuffre in haar memoire wat vandeesweek net maande ná haar selfdood verskyn het. Giuffre beweer sy het as tiener drie keer seks met Andrew gehad het – wat hy steeds ontken.

Die gewraakte foto waarop Andrew en Virginia Guiffre as jong meisie verskyn het. Foto: X
Andrew se bande met die veroordeelde seksuele oortreder Jeffrey Epstein is die grootste rede vir die aankondiging. Die afgelope paar weke het druk op die monargie toegeneem om die kwessie te hanteer, en die koning is vroeër die week deur ’n betoger hieroor uitgejou.
Andrew Mountbatten Windsor, soos hy voortaan volgens Buckingham-paleis bekend sal staan, verloor ook sy woning in Windsor en is van die amptelike rol van Britse adellikes verwyder.
“Hierdie gewone meisie uit ’n gewone gesin het ’n prins tot ’n val gebring,” sê haar broer, Sky Roberts.

Virginia Guiffre het haar eie lewe in April vanjaar geneem. Foto: X
“Ons is ongelooflik trots op haar,” het Roberts huilend aan BBC Newsnight gesê. Hy bestempel die nuus as ’n “oorwinning sonder enige presedent in die geskiedenis”.
Roberts waarsku die koning se optrede is nog nie genoeg nie. “Ons het ’n soort ondersoek nodig wat dieper gaan. Ek bedoel, hy (Andrew) loop steeds vry rond.
“Ek prys die koning – ek dink hy doen ’n ongelooflike werk as wêreldleier en skep ’n belangrike presedent – maar ons moet nog ’n stap verder gaan. Hy (Andrew) moet agter tralies wees. Punt.”
Trek na privaat woning
Buckingham-paleis het in ’n volledige verklaring aangekondig ’n formele proses is begin om Andrew se voorregte te verwyder. Sy huurkontrak by Royal Lodge, wat hom tot dusver regsbeskerming gebied het, is beëindig.
Hy sal na ’n privaat woning op die Sandringham-landgoed in Norfolk moet trek. Sy nuwe verblyf sal na verwagting privaat deur die koning gefinansier word.
Die paleis het beklemtoon hierdie maatreëls is nodig, ondanks Andrew se volgehoue ontkenning van die aantygings teen hom. “Hul majesteite wil dit duidelik maak dat hul gedagtes en innige simpatie steeds by die slagoffers en oorlewendes van enige vorm van misbruik is,” lui die verklaring.

Die Royal Lodge, wat Andrew nou moet verlaat. Foto: X
Buckingham-paleis bevestig Andrew is ook verwyder van die amptelike Roll of the Peerage – die openbare register van wettige adellikes in die VK. Hoewel hy nie meer ’n prins is nie, is hy steeds agtste in die ry van troonopvolgers.
Sy dogters, prinses Beatrice (37) en prinses Eugenie (35), behou hul titels. Sy eksvrou, Sarah Ferguson, sal haar eie verblyfreëlings moet tref.
Opperste vriend
Ferguson, wat ook in Royal Lodge gewoon het, het onlangs self opspraak verwek toe verskeie liefdadigheidsorganisasies haar as beskermvrou ontslaan het ná die openbaarmaking van ’n 2011-e-pos waarin sy die veroordeelde seksuele oortreder Jeffrey Epstein ’n “opperste vriend” genoem het.
Vroeër vandeesmaand het ook ander e-posse uit 2011 weer opgeduik wat toon dat Andrew steeds in kontak was met Epstein – maande nádat hy beweer het hul vriendskap het geëindig. Epstein het in Augustus 2019 in ’n tronk in New York sy eie lewe geneem terwyl hy vir sy verhoor op aanklagte van mensehandel met die oog op seksuele uitbuiting gewag het.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus cvs/mvh
 
                
 
                             
                             
                             
                             
                             
                     
                     
             
             
            
 
                    