International
Switserland rou ná 40 sterf in brand by skioord─── 11:47 Fri, 02 Jan 2026
Switserse ondersoekbeamptes is besig om die slagoffers te identifiseer van ’n brand wat in ’n oorvol kroeg uitgebreek het en die lewens van 40 mense geëis het. Altesaam 115 mense is beseer.
Die brand het in die vroeë oggendure van Nuwejaarsdag uitgebreek tydens ’n Oujaarsaandpartytjie in die Alpynse ski-oord Crans-Montana. Switserland se president, Guy Parmelin, het aangekondig dat die land vyf dae van nasionale rou sal hou.
Hy het die tragedie beskryf as “een van die mees traumatiese gebeure in Switserland se geskiedenis”, berig BBC.

Die brand het in die vroeë oggendure van Nuwejaarsdag uitgebreek. Skermgreep: BBC
Volgens die owerhede het die brand Donderdag omstreeks 01:30 ontstaan in die Le Constellation-kroeg in die dorpskern. Die oorsaak is nog nie bevestig nie, maar sommige getuies beweer dit het begin nadat vonkelstokkies in sjampanjebottels geplaas is.
Twee vroue het aan die Franse uitsaaier BFMTV vertel dat hulle gesien het hoe ’n kroegman ’n vroulike personeellid op sy skouers dra. Sy het glo ’n brandende kers bo-op ’n bottel gehou wat die houtplafon aan die brand gesteek het.
‘Baie van die feesgangers was tieners’
“Die vlamme het vinnig versprei en veroorsaak dat die plafon ineenstort,” sê hulle.
Die brand het binne oomblikke ’n stampvol kelder verswelg. Baie van die feesgangers was tieners.
Switserse polisie waarsku dat dit weke kan neem om die slagoffers te identifiseer. Die presiese aantal mense wat teenwoordig was, is nog nie bekend nie.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus mvh 
