International
Kenia treur ná dood van ikoniese olifant─── 09:06 Sun, 04 Jan 2026
Die Amboseli Nasionale Park in Kenia het Saterdag (3/1) bekend gemaak sy legendariese olifant, Craig (54), is dood. Hy was bekend vir sy reusetande en kalm en waardige persoonlikheid.
Hy is in Januarie 1972 gebore en “het ’n lewe geleef wat min olifante ooit leef”, luidens Kenya Wildlife Services se mediaverklaring op X. “Craig was een van die laaste oorblywende supertande in Afrika.
“Dit is ’n seldsame klas olifantebulle wie se twee tande elk meer as 45 kg weeg. Dit het van hom ’n lewende monument vir Afrika se natuurlike erfenis gemaak.”

Craig se tande weeg elk meer as 45 kg. Foto: Subhro Basu/Facebook
Volgens die Amboseli-park het Craig ’n aantal kalwers verwek wat verseker sy kragtige bloedlyn en sagte geaardheid sal oor geslagte heen voortleef.
Craig was ook geliefd vir sy merkwaardig kalm geaardheid. “Hy het gelyk of hy sy plek in die wêreld verstaan en het geduldig gestaan terwyl besoekers hom afgeneem en verfilm het.
“Hy is wêreldwyd bewonder en het ’n ware ambassadeur van Amboseli geword en ’n simbool van hoe suksesvolle bewaring lyk.
“Danksy deurlopende patrollies, optrede teen stropery, die beskerming van habitat en gemeenskapsbestuur kon Craig vrylik en veilig leef. ’n Bewys wat kollektiewe toewyding aan wildbewaring kan bereik.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus dg

