International
Olieprys hoër met Islamabad-gesprek in weegskaal─── 16:05 Mon, 20 Apr 2026
Die olieprys styg weer terwyl wêreldmarkte terugsak te midde van kommer dat die VSA-Iran-skietstaking nie lank gaan hou nie en stygende spanning oor die Seestraat van Hormoes.
Die prys van Brent-ruolie het sowat 5% gestyg tot byna $95 per vat, terwyl wêreldmarkte tot 1% gedaal het, met die uitsondering van Asië, waar ’n styging waargeneem is. Die VSA en Iran sou Maandagaand in Islamabad vergader, maar dit lyk of die Islamitiese Republiek kop uittrek nadat Amerika beslag gelê het op ’n Irannese vragskip.
Die bemanning wou glo sy versperring van Hormoes omseil. Iran het belowe om terug te slaan. Verkeer deur die straat het Maandag feitlik tot stilstand gekom en net drie skepe is daardeur.
“Markte klou aan elke stukkie nuus wat op een of ander uitkoms kan dui, en dit lei tot groot skommelinge. Maar dit bly ’n baie onseker en wisselvallige situasie,” het Sandra Horsfield, ekonoom by Investec, aan News24 gesê.

Die Seestraat van Hormoes. Foto: Nasa
Sy wys daarop hoewel markte teruggesak het, is die sentiment tog beter sedert Iran Vrydag gesê het hy stel die Straat van Hormoes weer oop.
Intussen bly die vooruitsigte vir verdere onderhandelinge tussen die VSA en Iran onseker. ’n Senior Irannese amptenaar het aan Reuters gesê Teheran oorweeg dit steeds om aan moontlike vredesgesprekke met die VSA deel te neem, maar beklemtoon dat geen finale besluit geneem is nie.
Die land het vroeër gesê die VSA se aanval op die Irannese vragskip, die VSA se versperring van Irannese hawens en vertragings in die implementering van ’n skietstaking in Libanon is alles “duidelike skendings van die wapenstilstand” wat nog tot Woensdag geld.
Pres. Masoud Pezeshkian het intussen volgens die BBC subtiel gewaarsku teen misleidende inligting aan die publiek. Hy het gesê oorlog bevoordeel niemand. “Terwyl ons standvastig teen bedreigings staan, moet elke rasionele en diplomatieke roete gebruik word om spanning te verminder.”
Iraniërs “moet ingelig word oor die land se werklikhede” en dat “die verskaffing van onakkurate inligting of onrealistiese beloftes nie net daarin misluk om probleme op te los nie, maar ook die publiek se vertroue ondermyn. Prestasies sowel as uitdagings moet eerlik met die publiek gedeel word,” het Pezeshkian gesê.
Pres. Donald Trump het aan die New York Post bevestig visepresident JD Vance, gesant Steve Witkoff en adviseur Jared Kushner is inderdaad op pad na Pakistan.
“Of hierdie dooiepunt bloot ’n ompad op pad na ’n oplossing is, moet nog gesien word, maar meer wisselvalligheid lyk die waarskynlikste uitkoms,” het Derren Nathan, hoof van aandele-navorsing by Hargreaves Lansdown, in ’n nota gesê.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

