International
Air India-ondersoek nader finale fase; konsepverslag teen Oktober verwag─── 12:37 Wed, 15 Jul 2026
Indië se ondersoek na die Air India-vliegramp waarin 260 mense verlede jaar dood is, het die ontledingsfase bereik en ’n konsep van die finale verslag kan teen Oktober gereed wees.
Die Aircraft Accident Investigation Bureau (AAIB) het dié tydlyn in ’n beëdigde verklaring aan Indië se Hooggeregshof uiteengesit. Die verklaring is ingedien voor ’n hofverhoor oor versoeke dat ’n onafhanklike of hofgemonitorde ondersoek na die ramp ingestel word.
Air India-vlug AI171, ’n Boeing 787 Dreamliner onderweg na Londen, het op 12 Junie verlede jaar pas ná sy vertrek vanaf Ahmedabad se lughawe neergestort. Die vliegtuig het sowat 6 km van die lughawe af ’n gebou getref wat as verblyf vir dokters by ’n mediese kollege gebruik is.
Altesaam 241 mense aan boord en 19 mense op die grond is dood. Viswashkumar Ramesh van Leicester in Engeland was die enigste oorlewende passasier. Die omvang en kompleksiteit van die ramp het tot ’n uitgebreide tegniese, forensiese en menslikefaktorondersoek gelei.

Die enigste oorlewende van die Air India-vliegramp waarin 241 mense dood is, Vishwash Ramesh. Foto: Facebook/Daily Star
Die AAIB het reeds 49 van die 66 voorgeskrewe ondersoekstappe afgehandel. Dit sluit die ondersoek van die ramptoneel en wrakstukke, die herwinning en ontleding van vlugopnemers en die bestudering van die vlieëniers se opleiding, mediese geskiedenis en werksomstandighede in.
Die agentskap sê die oorblywende werk kan binne ongeveer ses weke afgehandel word, hoewel sekere eksterne inligting nog uitstaande is. Die ondersoek se vordering sluit die ontleding van data uit ’n enjinmoniteringseenheid in.
Ondersoekers het intussen ’n transkripsie van die kajuitstemopnemer opgestel en ’n sielkundige nadoodse ondersoek laat doen. Die AAIB het nie aangedui wie se sielkundige profiel beoordeel is of enige bevinding daaroor bekend gemaak nie. Vlieëniers, kajuitpersoneel, tegniese werknemers, lugverkeerbeheerders, weerkundiges en menslikefaktorspesialiste is ondervra.
‘Die brandstofbeheerskakelaars het kort ná vertrek na die afsnyposisie beweeg’
Familielede van die vlugbemanning is eweneens genader. Die ondersoek se finale fase behels nou die formulering van bevindings oor tegniese, operasionele, menslike en organisatoriese faktore.
Die voorlopige verslag het aangedui die brandstofbeheerskakelaars het kort ná vertrek na die afsnyposisie beweeg, wat die brandstoftoevoer na albei enjins onderbreek het. ’n Kajuitopname het een vlieënier vasgelê waar hy vra waarom die ander dit gedoen het. Die ander vlieënier het geantwoord dat hy dit nie gedoen het nie. Die verslag het nie aangedui wie die onderskeie opmerkings gemaak het nie.
Die AAIB waarsku dat mediaberigte wat skuld aan die vlieëniers toegeskryf het, sommige getuies terughoudend en minder samewerkend gemaak het. Kaptein Sumeet Sabharwal se vader het die hof genader nadat die voorlopige verslag volgens hom ongegronde bespiegeling oor sy seun aangevuur het.
Die agentskap voer aan die ondersoek voldoen aan internasionale lugvaartreëls en is daarop gemik om toekomstige ongelukke te voorkom, nie om strafregtelike of siviele skuld te bepaal nie. Die konsepverslag sal eers aan onder meer die Amerikaanse National Transportation Safety Board gestuur word.
Dié kommentaarproses kan tussen 30 en 60 dae duur voordat die verslag gefinaliseer en gepubliseer word. Die voorgeskrewe regsproses verbied terselfdertyd die openbare bekendmaking van kajuitopnames en die identiteit van betrokkenes.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

