On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Yvette
Listen Live Streams

International

JD en Usha Vance maak geskiedenis met vierde kleinding

───   10:25 Mon, 20 Jul 2026

JD en Usha Vance maak geskiedenis met vierde kleinding | News Article
JD en Usha Vance saam met hul kinders. Foto: Facebook/ Xovetra Global

Die VSA se adjunkpresidentspaar, JD en Usha Vance, het Sondag (19/7) die geboorte van hul vierde kind, Alec Neel Vance, aangekondig.

Die baba is die eerste kind in 156 jaar wat gebore is terwyl sy pa adjunkpresident van die Verenigde State is. Die egpaar het op sosiale media gesê Usha en die baba is gesond en hul drie ouer kinders is verheug oor hul nuwe boetie. 

Alec sluit aan by Ewan (9), Vivek (6) en Mirabel (4). Die Vance-egpaar bedank dokters en personeel van die Walter Reed National Military Medical Center en die Withuis se mediese eenheid vir hul ondersteuning. Die egpaar het Usha se swangerskap reeds in Januarie aangekondig en gesê die baba word einde Julie verwag.

Usha en JD Vance kort ná Alec Neel se geboorte. Foto: X

Die geboorte het besonderse historiese betekenis omdat dit uiters seldsaam is dat ’n adjunkpresidentspaar tydens hul ampstermyn ’n kind verwelkom. 

Schuyler Colfax en sy tweede vrou, Ellen Wade Colfax, het in 1870 ’n seun, Schuyler Colfax III, gehad terwyl Colfax adjunkpresident was. John C. Calhoun en sy vrou, Floride Bonneau Calhoun, het in 1829 ook ’n seun verwelkom terwyl hy dié amp beklee het.

Vance (41) is ’n voormalige Amerikaanse seesoldaat en het gesinsuitbreiding en dalende geboortesyfers herhaaldelik deel van sy politieke boodskap gemaak. Tydens die March for Life-byeenkoms in Washington in 2025 het hy gesê hy wil meer babas en gelukkige kinders in die VSA sien. 

Die Vance-gesin. Facebook/USA Zone

By dieselfde byeenkoms in Januarie het hy na Usha se swangerskap verwys as bewys dat hy sy eie standpunte uitleef

Vance het vroeër vertel hy moes sy vrou oorreed om ’n vierde kind te hê. Usha het egter in ’n onderhoud gesê sy het nooit die moontlikheid heeltemal uitgesluit nie. Nadat hul dogter gebore is, het sy aanvanklik gevoel hul gesin is volledig, maar met verloop van tyd het sy al meer opgewonde geraak oor die vooruitsig van nog ’n kind

Usha, die dogter van immigrante uit Indië, het reeds groot openbare belangstelling geniet sedert haar man se politieke opgang. Haar swangerskap het die aandag verskerp omdat so min mense in Amerika se hoogste politieke ampte hul gesinne uitbrei terwyl hulle dien.

Die geboorte vorm deel van ’n klein babagolf onder senior lede van pres. Donald Trump se administrasie. Katie Miller, vrou van Stephen Miller, het onlangs hul vierde kind gehad, terwyl Withuis-woordvoerder Karoline Leavitt en haar man, Nicholas Riccio, in Mei hul tweede kind verwelkom het.

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.