On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

International

Daniel Ortega skrap Nicaragua se verkiesings, versterk familiebewind

───   13:40 Tue, 21 Jul 2026

Daniel Ortega skrap Nicaragua se verkiesings, versterk familiebewind | News Article
Daniel Ortego spreek Sondag sy land toe. Skermskoot: Facebook

Nicaragua se president het aangekondig dat die land nie weer verkiesings sal hou nie.

Daniel Ortega (80) sê dit is nodig om te voorkom dat opposisiepartye die regering oorneem. Hy het die aankondiging gedoen tydens die 47ste herdenking van die Sandinistiese rewolusie van 1979, waaraan hy self deelgeneem het.

Ortega regeer Nicaragua onafgebroke sedert 2007, nadat hy ook gedurende die 1980’s ’n vorige termyn as president gedien het. Hy het geen besonderhede verskaf oor hoe verkiesings formeel afgeskaf sal word nie, maar het belowe om saam met die Nasionale Vergadering nuwe wetgewing te aanvaar wat ’n “muur” teen die opposisie sal bou. 

Die regerende Sandinistiese party beheer die wetgewer en feitlik alle ander staatsinstellings. Nicaragua se volgende verkiesing sou in November 2027 plaasgevind het. Die regeringbeheerde kongres het die presidentstermyn reeds verlede jaar van vyf tot ses jaar verleng.

Daniel Ortega. Foto: Wikipedia

Hy het tydens sy toespraak Sondag (19/7) gesê die tyd toe partye met Amerikaanse steun weer aan bewind kon kom, is verby. Hy het egter nie gesê of die verkiesing bloot gekanselleer of die opposisie geheel en al uitgesluit sal word nie. 

Die aankondiging volg op jare waarin die regering politieke teenstanders, burgerlike organisasies, kerke, universiteite en die media toenemend onderdruk het. 

Ortega het voor die omstrede verkiesing van 2021 opposisiepartye verbied en moontlike presidentskandidate in hegtenis laat neem. Die verkiesing is wêreldwyd as onvry en ongeloofwaardig veroordeel.

Daniel Ortega en sy vrou, Rosario Murillo, is sogenaamde medepresidente van Nicaragua. Foto: Facebook

Ortega en sy vrou, Rosario Murillo, deel die presidentskap nadat grondwetlike veranderings haar as “medepresident” aangewys het. Hulle beheer volgens waarnemers die uitvoerende gesag, die regbank, die weermag en die polisie.

Ontleders meen die jongste aankondiging bevestig Nicaragua se oorgang na ’n volwaardige familiediktatuur

Die land se politieke krisis het in 2018 verdiep toe veiligheidsmagte betogings teen die regering hardhandig onderdruk het. Honderde mense is dood, duisende is aangehou en groot getalle inwoners het uit Nicaragua gevlug. 

Die Verenigde Nasies het die Ortega-Murillo-regering van stelselmatige menseregteskendings en die vestiging van ’n outoritêre staat beskuldig.

Opposisieleiers in ballingskap meen Ortega se besluit getuig eerder van vrees as politieke selfvertroue. Volgens hulle wil hy enige moontlikheid uitskakel dat openbare ontevredenheid deur ’n verkiesing tot ’n magswisseling kan lei. 

Nicaragua se politieke toekoms word nou toenemend deur een party en een familie bepaal.

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.