On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

International

Dís hoekom Suid-Koreane oudste in wêreld word

───   14:44 Wed, 26 Aug 2026

Dís hoekom Suid-Koreane oudste in wêreld word | News Article
’n Straattoneel in Seoel. Foto: livelikeitstheweekend.com

Suid-Korea se mans kan teen 2030 die hoogste lewensverwagting in die wêreld hê.

Navorsers skryf dit nie toe aan gene nie, maar aan wat hulle eet, lae vetsug, goeie gesondheidsorg en ’n lewenwyse waarvan gereelde beweging natuurlik deel is. In ’n studie deur Imperial College London en die Wêreldgesondheidsorganisasie is reeds in 2017 voorspel dat Koreaanse mans teen 2030 ’n gemiddelde lewensverwagting van 84,1 jaar kan bereik – hoër as dié van Switserland en Australië.

Hul vroulike eweknieë vaar nog beter en kan verwag om teen 2030 ouer as 90 te word, berig Space Daily.

Vir die mans is die sprong vanaf ’n lewensverwagting van net ouer as 60 in 1970 tot ouer as 80 jaar in 2024 nie deur evolusie bewerkstellig nie, maar deur eetgewoontes, mediese sorg en ’n leefstyl vol beweging.

’n Tafel gedek met Suid-Koreaanse geregte. Foto: Klook Travel Blog

Suid-Korea het vinnig geïndustrialiseer sonder om massavetsug te ontwikkel, soos wat elders in die wêreld die geval is. In die VSA het dit al by 38% van volwassenes gaan draai.

In Suid-Korea is slegs sowat 5% van volwassenes klinies vetsugtig. Hul dieet is toegespits op rys, sop, vis en gefermenteerde groente, en klein porsies rooivleis. Bloeddruk bly laag, wat ook die geval is met sterftes aan hartsiektes en beroerte.

Algemene mediese dekking is binne twaalf jaar ingevoer, wat gereelde en bekostigbare kontak met dokters moontlik maak. Dit bring mee dat ’n styging in kankermerkers of bloeddruk reeds waargeneem word in mense wat gesond is.

Minder mense oefen wel in hul vrye tyd. Foto: Seoul Searching

Hoe die stede ontwerp is, asook openbare vervoer, hou die bevolking aktief en aan die stap, in teenstelling met die neiging in veral die Weste waar meer gesit en minder geoefen word.

Toe Stanford-navorsers 68 miljoen dae se slimfoon-stapdata in 111 lande vir ’n artikel in Nature ontleed het, was die wêreldgemiddeld sowat 5 000 treë per dag. 

Wat egter beskou word as ’n sekere aanduiding van vetsug, is die gaping tussen die treë wat ’n land se aktiefste mense per dag gee en die onaktiefste, die aktiwiteitsongelykheidsyfer. Suid-Korea was saam met Japan, Swede en Hongkong dié met die laagste syfer of kleinste gaping.

Die meeste inwoners het min of meer dieselfde hoeveelheid treë afgelê, sonder dat ’n klein, fikse minderheid die nasionale syfer opgestoot het.

Voetgangervriendelike stede soos Seoel dra waarskynlik daartoe by. Moltreinstelsels, trappe en woonstel- en kantoorblokke wat nie te groot is nie bied aan byna almal die geleentheid om dieselfde getal treë te gee, of dit as oefening beskou word of nie.

Hier kom egter ’n probleem in. ’n Ontleding van die Koreaanse Nasionale Gesondheids- en Voedingsopname wys die mense wat die aanbevole tyd aan oefening bestee het in hul vrye tyd, het gedaal van 25,5% in 2014 tot 20,5% in 2021. In dieselfde tydperk het die getal volwassenes wat agt uur of langer per dag sit, van 46,7% tot 63% gestyg.

Sterftedata neem jare om sulke verskuiwings te weerspieël, en dit kan later ’n invloed hê.

OFM Nuus sm

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.