On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

International

Wat jy eet voor 2 jaar oud kan jou gesondheid knou tot in 70’s

───   15:26 Wed, 26 Aug 2026

Wat jy eet voor 2 jaar oud kan jou gesondheid knou tot in 70’s | News Article
Foto ter illustrasie: sharonselby.com

Die hoeveelheid suiker wat ’n kind voor sy tweede verjaardag inneem, kan sy gesondheid beïnvloed as hy ouer word, selfs tot in die sewentigs.

Navorsers het bevind mense wat minder blootstelling het aan suiker in hul eerste 1 000 dae, se risiko vir verskeie soorte kanker is laer later in hul lewe. Hulle beleef ook stadiger biologiese veroudering en handhaaf selfs gesonder eetgewoontes.

Die unieke geleentheid om dit te bestudeer het ná die Tweede Wêreldoorlog in Brittanje ontstaan, berig The Conversation

Suiker was vir jare gerantsoeneer en toe die rantsoenering in 1953 beëindig is, het verbruik daarvan byna verdubbel. Kinders wat net maande uitmekaar gebore is, het dus heel verskillende vlakke van suikerblootstelling gehad.

Mense wat minder blootstelling het aan suiker in hul eerste 1 000 dae, se risiko vir verskeie soorte kanker is laer later in hul lewe. Foto: kalitebelgesi.com

Die studie het data van meer as 64 000 mense gebruik wat tussen 1951 en 1956 gebore is. Dié wat vroeër gebore is, het ’n groter deel van hul eerste 1 000 dae onder rantsoenering deurgebring. Die navorsers het gevind onder hierdie groep was ’n laer voorkoms van vyf kankersoorte: bors-, prostaat-, lewer-, rektale en longkanker.

Die uitwerking was die sterkste op lewerkanker, waar die kans sowat 69% laer was om dit op te doen, en die swakste by borskanker (36%).

Biologiese veroudering is ook beïnvloed. Mense wat langer rantsoenering ervaar het, het langer telomere gehad – ’n teken van stadiger veroudering op sellulêre vlak. Die verskil was gelykstaande aan sowat 2,2 jaar se stadiger veroudering. Laer vlakke van die proteïen gransiem B is ook aangeteken, wat dui op ’n immuunstelsel wat minder oorlaai is.

Die mees verrassende bevinding was egter dat vroeë suikerblootstelling mense se dieetvoorkeure dekades later beïnvloed het. Selfs op 50-jarige ouderdom het dié wat minder suiker in hul eerste jare ervaar het, steeds minder suiker verbruik en ’n gesonder, meer diverse dieet gehandhaaf. Dit dui daarop dat smaakvoorkeure reeds in die eerste 1 000 dae gevorm word en lank kan voortduur.

Ander studies wat die einde van Brittanje se rantsoenering gebruik het, het ook laer risiko’s vir tipe 2-diabetes, hoë bloeddruk, demensie en hartsiektes getoon.

Dit beteken nie kinders moet suiker heeltemal ontneem word nie, maar dit wys dat selfs klein verskille in vroeë voeding ’n merkbare impak kan hê wat ’n leeftyd lank duur.

OFM Nuus sm

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.