International
Skikking oor veiliger sosiale media kan ook SA kinders bevoordeel─── 13:46 Fri, 28 Aug 2026
Meta, die maatskappy agter Facebook en Instagram, het vandeesweek ’n geskiedkundige skikking in die VSA bereik om kinders se veilige gebruik van sosiale media te versterk.
Die onderneming het ingestem om tot $18 miljard (ongeveer R288 miljard) oor die volgende dekade te betaal en om ’n reeks nuwe beskermingsmaatreëls vir tieners in te stel. Die kanse is goed dit sal ook tot voordeel van Suid-Afrikaanse kinders wees.
Al ontken Meta enige skuld, word die ooreenkoms beskou as ’n keerpunt in die wêreldwye gesprek oor die rol van tegnologie in jong mense se lewe, berig News24.
Die hofgeding berus op bewerings dat Meta se platforms verslawend en skadelik vir kinders is.

Meta het ingestem om tot $18 miljard oor die volgende tien jaar te betaal en om ’n reeks nuwe beskermingsmaatreëls vir kinders in te stel. Foto: Kinzoo
As deel van die skikking sal nuwe funksies outomaties vir gebruikers onder 18 geaktiveer word:
- ’n Skermtydbeperking van twee uur per dag, wat slegs met ouerlike toestemming opgehef kan word.
- ’n Versperring wat geen toegang meebring tussen middernag en 06:00.
- ’n Kennisgewingstilte gedurende skoolure (08:00–15:00).
- Nie-algoritmiese nuusvoer wat tieners se voorkeure nie manipuleer nie.
- ’n Versperring van “likes” en reaksies op tieners se plasings.
- ’n Verbod op chirurgie- en uiterste grimeringfilters.
Aanpassings dalk wêreldwyd
Hoewel die skikking net in die VSA geld, meen kenners Meta sal waarskynlik die veranderinge wêreldwyd instel.
Australië het vroeër vanjaar sosiale media vir kinders onder 16 verbied, terwyl die EU ’n verbod vir kinders jonger as 13 jaar oorweeg. In Suid-Afrika het Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys, aangekondig riglyne oor skermtyd vir jong kinders word ontwikkel.
Wonderkuur
Solly Malatsi, minister van kommunikasie en digitale tegnologieë, beklemtoon ’n ouderdomsverbod bied nie ’n “wonderkuur” nie, en gesprekke met platforms duur voort.
Plaaslike kenners meen die skikking kan ’n bloudruk vir Suid-Afrika bied, omdat wêreldwye platforms dikwels funksies oral uitrol sal Suid-Afrikaanse tieners waarskynlik ook die nuwe beperkings ervaar.
Die saak bring boonop ’n konseptuele verskuiwing: Sekere platformontwerpe kan as ’n verbruikersbeskermings- en kinderveiligheidskwessie beskou word, nie net as ouerlike verantwoordelikheid nie.
Kenners waarsku dat toepassing die groot uitdaging is. Die Inligtingsreguleerder kan die saak gebruik om sterker toepassing van die Popia-wet te bewerkstellig, veral art. 34 wat kinders se data beskerm.
Die skikking wys dat groot tegnologiemaatskappye tegnies in staat is om drastiese beskermingsmaatreëls inwerking te stel. Al is dit nog te vroeg om te weet of alles streng toegepas gaan word, is die boodskap duidelik: Kinders se veiligheid op sosiale media berus nie net by ouers nie, maar is ook die verantwoordelikheid van die platforms.
OFM Nuus cvs dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

