International
Vegetaries? Pasop vir toksiene in alternatiewe produkte vir vleis─── 14:22 Fri, 28 Aug 2026
’n Groot opname van plant-gebaseerde kosse en drankies wat in die Verenigde Koninkryk verkoop word, het ’n verrassende bevinding opgelewer wat mense twee keer sal laat dink voor hulle dit inneem.
Elk van die 212 getoetste produkte bevat minstens een natuurlike swamtoksien. Hoewel die konsentrasies onder die EU se aanbevole perk is, sê navorsers die groter vraag is of gereelde verbruik van groot hoeveelhede sulke kosse tot kumulatiewe blootstelling kan lei wat gesondheidsrisiko’s inhou.
Die produkte wat ondersoek is in die studie deur die Universiteit van Parma in Italië en Cranfield Universiteit, het gewilde items ingesluit soos veganistiese burgers, vegetariese hoenderstukke, worsies en plantaardige melk (hawer-, amandel- en sojamelk).
Elke produk het minstens een van 19 toksiene bevat, sommige selfs verskeie, berig Science Daily.

Die produkte wat ondersoek is, sluit in gewilde kos soos veganistiese burgers en vegetariese hoenderstukke. Foto: Meals from the heart cafe
Swamtoksiene, of mikrotoksiene, is giftige verbindings wat natuurlik deur swamme vervaardig word. Omdat plant-gebaseerde kosse dikwels graan, peulgewasse en sade bevat, is dit meer blootgestel daaraan tydens die groeifase of tydens berging.
Die groter vraag is of langtermyn-blootstelling aan klein hoeveelhede toksiene ’n gesondheidsrisiko kan inhou.
Die bekommernis lê nie noodwendig by die hoeveelheid wat in ’n enkele produk voorkom nie. Vorige navorsing het aangedui dat herhaalde blootstelling aan klein hoeveelhede mikrotoksiene mettertyd kan opbou en eindelik gesondheidsrisiko’s kan veroorsaak.
‘Die uitdaging ontstaan wanneer nuwe voedselprodukte op die mark kom’
Die eet van individuele plant-gebaseerde produkte is dus waarskynlik nie op sigself problematies nie. Navorsers waarsku egter dat ’n dieet wat uitsluitlik uit plantvoedsel bestaan, die kumulatiewe blootstelling aan mikrotoksiene kan verhoog indien dit nie behoorlik bestuur word nie.
In ernstige gevalle is mikrotoksienblootstelling gekoppel aan lewer- en nierskade, onderdrukking van die immuunstelsel en selfs kanker.
Andrea Patriarca, senior dosent in mikologie by Cranfield, sê swamtoksiene kom natuurlik in kosse voor en kan nie heeltemal vermy word nie. “Die uitdaging ontstaan wanneer nuwe voedselprodukte op die mark kom, aangesien daar tans geen gevestigde regulasies is om toksiene te monitor nie.”
Hy beklemtoon die data help voedselveiligheidsorganisasies om risiko’s te bepaal.
Die studie wys dat plant-gebaseerde kosse nie noodwendig “skoon” is nie, en dat streng monitering en handhawing noodsaaklik is. Vir verbruikers bly die boodskap:Geniet ’n verskeidenheid kosse, maar wees bewus van langtermyn-blootstelling.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

