On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

International

EU beplan streng nuwe reëls vir kinders op sosiale media

───   12:56 Thu, 17 Sep 2026

EU beplan streng nuwe reëls vir kinders op sosiale media | News Article
Die Europese Unie beplan strenger beperkings op sosialemediatoegang vir kinders. Foto: Pexels

Strenger beperkings op die gebruik van sosiale media wag straks op Europese kinders jonger as 15 nadat die Europese Unie (EU) planne aangekondig het om toegang tot platforms soos TikTok, Instagram, YouTube en Snapchat geleidelik in te kort.

Dié plan sal ook ’n verbod op toegang tot dié platforms vir kinders jonger as 13 jaar insluit. Kinders van 13 tot 15 jaar sal slegs vir ’n uur per dag toegang tot die platforms hê via “mini-rekenings” wat deur hul ouers of voog se sosialemediarekeninge opgestel is.

Die Europese kommissie sê sosialemediamaatskappye sal veilige platforms moet verskaf om boetes van tot 6% van hul wêreldwye verkope vry te spring. EU-hoof Ursula von der Leyen sê hierdie stappe kan ouers weer in beheer plaas, berig die BBC.

Sy sê hierdie wetgewing, die EU-kinderwet, sal aan ouers die nodige hulpmiddels gee om hul kinders te help om ’n veiliger wêreld te beleef.  Die beperkings sal nie net bekende toepassings soos TikTok, Instagram en SnapChat raak nie, maar ook YouTube en ander videostromingsplatforms, asook  KI-kletsbotte en aanlyn speletjies.

Beplande EU-wetgewing wil ’n verbod plaas op kinders onder 13 se toegang tot sosiale media. Foto: Pexels

“Te veel kinders word te vroeg blootgestel aan ’n aanlyn wêreld waarvoor hulle nog nie gereed is nie – ’n omgewing waar afknouery jou huis toe kan volg en waar elke fout vir altyd aangeteken kan word,” het Von der Leyen gesê. Kragtens die wet sal slegs kinders van 15 jaar en ouer toegelaat word om hul eie sosiale-mediarekeninge te skep.

Von der Leyen het Donderdag aan die Europese Parlement gesê ’n ouderdomsbeperking skeld nie tegnologiemaatskappye vry van hul verantwoordelikheid vir die inhoud op hul platforms nie. Maatskappye sal ingevolge die wetgewing – indien dit goedgekeur word – verplig wees om gedetailleerde planne vir kinders se veiligheid voor te lê. 

“Vir elke persoon jonger as 18 moet platforms die beginsel van veiligheid deur ontwerp volg – geen toksiese of verslawende funksies, geen strikke, ensovoorts nie.”

Sommige individuele EU-lande het reeds hul eie afsonderlike planne aangekondig om sosiale media vir kinders te beperk, waaronder Frankryk en Spanje. Enige moontlike wetgewing wat vir die hele EU geld, sal dié maatreëls vervang, maar individuele EU-lidlande sal daarna steeds verdere beperkings kan instel. 

‘Die hof het bevind dit maak inbreuk op vryheid van uitdrukking’

Hoe dié EU-wye wetgewing afgedwing sal word, is nog nie seker nie en die planne sal waarskynlik in die komende maande teenstand ondervind.

Frankryk laat blyk die pad vorentoe kan moeilik wees, aangesien individuele lidlande kan probeer om die voorgestelde maatreëls te versterk of te verswak. Die Franse regering het wetgewing opgestel om sosiale media vir kinders jonger as 15 te verbied, maar die land se hoogste hof het dit verlede maand geblokkeer. Die hof het bevind dit maak inbreuk op vryheid van uitdrukking. Franse ministers het sedertdien hul oorspronklike planne aangepas.

Sommige kritici van sosialemediabeperkings vir kinders wys op kommer oor privaatheid. Hulle is besorg dat tieners gedwing kan word om persoonlike inligting te verskaf wanneer hulle ’n ouderdomsverifikasieproses moet ondergaan om te bewys dat hulle oud genoeg is om toegang tot platforms te kry.

Die Europese Kommissie het gesê ouderdom sal deur middel van die EU se bestaande ouderdomsverifikasie-toepassing bevestig word en geen persoonlike data sal ingesamel of gedeel word nie. Sosialemediamaatskappye sal ook hul standpunt oor die beperkings bekend maak namate die wet in die komende maande bespreek word.

Die Europese Kommissie het gesê sy voorgestelde wetgewing bou voort op bevindings van sy spesiale paneel oor kinders se veiligheid aanlyn. Die paneel het ouderdomsgepaste regulering vir kinders aanbeveel, met verskillende riglyne vir elke ouderdomsgroep. Die kommissie het ook onlangse EU-opnamedata aangehaal waaruit blyk dat 92% van respondente die behoefte om kinders se beskerming aanlyn te versterk, as ’n belangrike beleidsprioriteit beskou.

Von der Leyen het gesê die kommissie het “na Australië gekyk” – wat verlede jaar sosialemediaplatforms vir kinders onder 16 verbied het – toe die voorstel saamgestel is. Die verbod was moeilik afdwingbaar. 

Australië se minister van kommunikasie, Anika Wells, het vroeër vandeesmaand erken geen tegnologiemaatskappy is tot dusver beboet nie, ondanks navorsing wat toon talle kinders jonger as 16 is steeds op die platforms.

’n Soortgelyke verbod op sosiale media vir kinders jonger as 16 sal na verwagting volgende lente in die Verenigde Koninkryk in werking tree.

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.