On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Local News

Akademia eerste private instelling wat BCom-graad in Afrikaans aanbied

───   15:23 Thu, 12 Sep 2013

Akademia eerste private instelling wat BCom-graad in Afrikaans aanbied | News Article
Akademia, die hoëronderwysinstelling van die Solidariteit Beweging, het pas die eerste privaat instelling geword wat 'n ten volle Afrikaanse BCom-graad gaan aanbied.
 
Die Raad op Hoër Onderwys het hierdie week bekend gemaak dat 'n driejarige BCom-graad in Ondernemingsbestuur van Akademia geakkrediteer is. Akademia sal dié graad vanaf 2014 aanbied.

Akademia het kundiges in die bedryf en vooraanstaande akademici van openbare universiteite genader om die graad te help ontwikkel ten einde te verseker dat die graad akademies uitnemend en toepaslik vir die mark is.

Wat die graad nog verder uniek maak, is dat dit deur die nuutste interaktiewe videotegnologie by sewe leersentrums oor Suid-Afrika heen aangebied gaan word.
 
Akademia is die eerste onderwysinstelling wat ten volle geïntegreerd van hierdie nuwe videokonferensietegnologie vir onderrig gebruik maak.
 
Hierdie tegnologie maak universiteitvlakopleiding meer toeganklik en bekostigbaar, en verskaf hoëvlak-leerondersteuning aan afstandonderrigstudente. Die fokus van hierdie model is om studente deur optimale ondersteuning te help om suksesvol te studeer.

“Die akkreditasie van die BCom-graad is 'n belangrike stap in die vestiging van 'n nuwe, groot privaat Afrikaanse universiteit. Ons is nie net trots op die feit dat Afrikaans as wetenskaptaal versterk word nie, maar ook dat Akademia die voorloper is van 'n nuwe hoëtegnologiemodel van Afrikaanse universiteitswese,” het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, gesê.

Volgens Marthinus Visser, uitvoerende hoof van Akademia, kan studente as gevolg van die unieke nauurse model ekonomies aktief wees en terselfdertyd studeer. “Ons het gesoek vir 'n model wat die voordele van kontakonderrig en tradisionele korrespondensie-onderrig kombineer, al kom hulle op verskillende plekke in die land bymekaar.
 
Die enigste manier hoe dit regstreeks en interaktief gedoen kan word, is deur die nuwe interaktiewe videotegnologie wat Akademia gebruik. Akademia-studente draf ook byna papierloos klas omdat elke student 'n tabletrekenaar ontvang waarop al die studiemateriaal gelaai word,” het Visser gesê.

Akademia het in 2012 'n studie onder Afrikaanse hoërskoolleerlinge by 99 skole gedoen. Hierdie studie het 'n oorweldigende behoefte onder Afrikaanse leerlinge om spesifiek in Afrikaans te studeer, getoon.
 
Altesaam 74% van die respondente het aangedui dat hulle by 'n universiteit wil studeer en 68% wil in Afrikaanse studeer.
 
Daar blyk 'n drastiese afname te wees in instellings wat studies in Afrikaans bied, wat 'n spesifieke behoefte aandui. Akademia wil in hierdie behoefte voorsien.

Die akkreditasie van die BCom-kwalifikasie is 'n belangrike stap om Akademia se eerste fakulteit, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, uit te bou en te versterk.
 
Hierdie kwalifikasie is 'n toevoeging tot Akademia se reeds bestaande aanbod van hoër sertifikate in onderskeidelik Kantooradministrasie en Rekeningkunde asook twee diplomaprogramme, een in Bemarking en die ander in Kleinsakebestuur en Entrepreneurskap.

Verklaring verskaf

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.