Local News
Twee verskyn weens Vredefort-plaasmoorde─── CHRISTAL-LIZE MULLER 08:53 Tue, 22 Sep 2015

Kroonstad - Twee verdagtes wat Sondag in Kroonstad in hegtenis geneem is in verband met die moord op Hansie Raath en twee plaaskinders by Vredefort, verskyn na verwagting vandag in die Kroonstad-landdroshof.
Polisiewoordvoerder, Masilela Langa, sê ‘n 35-jarige staan tereg op aanklagte van moord, motordiefstal en diefstal van ‘n vuurwapen. Daar is ook ‘n 30-jarige man as ‘n medepligtige in hegtenis geneem.
Raath en twee seuns, onderskeidelik 11 en 15 jaar oud, is Saterdag op die plaas Palmietkuil doodgeskiet. Raath, plaasvoorman, het na bewering 'n man, wat aan hom bekend is, en ses kinders by 'n vulstasie op Vredefort opgelaai en saam met hulle op die plaas gaan eet.
Die man het blykbaar 'n vuurwapen van Raath in die hande gekry en Raath en die twee seuns na bewering doodgeskiet.
Christal-Lize Muller/OFM-nuus