Local News
Vrou op skoolterrein by Dewetsdorp vermoor─── CHRISTAL-LIZE MULLER 19:17 Tue, 24 Nov 2015

Dewetsdorp - Die polisie in die Vrystaat het nog nie die naam van ‘n 50-jarige vrou, wie se lyk vanmiddag op die Jimmie Roos-jeugsorgsentrum se skoolterrein by Dewetsdorp gevind is, bekend gemaak nie.
Polisiewoordvoerder, Yanda Ngcukana, sê die polisie is steeds op die toneel nadat twee skoolseuns omstreeks 14:20 op die vrou, wat verbonde is aan die skool, afgekom het. Sy was reeds dood.
Volgens hom is die vrou ook ‘n bestuurder van ‘n lodge op die skoolterrein.
Haar lyk is by haar bakkie gevind tussen die lodge en ‘n dam wat op die terrein geleë is.
Hy sê die seuns het twee mans in ‘n Land Cruiser-bakkie van die toneel sien wegry. Hulle het vinnig hulp ontbied.
Ngcukana sê die slagoffer is met ‘n baksteen en ‘n groter klip teen die kop geslaan.
Niks word uit die gastehuis of haar bakkie vermis nie. Hy sê haar selfoon is steeds op die toneel.
Nog niemand is in hegtenis geneem nie.
OFM-nuus weet wie die vrou is, maar verkies om nie nou haar besonderhede bekend te maak nie uit respek vir haar naasbestaandes.
Ngcukana sê haar familie moet eers in kennis gestel word.
Johnny Erlank, wat verlede week as skoolhoof uitgetree het, kon nie by navraag kommentaar lewer nie. Hy het toe die polisie te woord gestaan.
OFM-nuus