Local News
Vredefort driedubbele moordverdagte verskyn weer─── 09:23 Mon, 18 Jan 2016

Supplied
Vredefort - Die vermeende moordenaar van ‘n Vrystaatse kontrakteur, wat herstelwerk op plase gedoen het, asook twee kinders op ‘n plaas by Vredefort verskyn na verwagting vandag weer in die hof.
Tsietsi Joseph Mangola staan tereg op die moord op Hansie Raath en twee minderjarige seuns, Petrus Mohlamme en Katleho Mosolodi, op 11 September verlede jaar.
Mangola het glo eers vir Raath, sy voormalige werkgewer, en toe die twee seuns in Raath se plaashuis doodgeskiet.
Raath, ‘n weldoener wat hom oor behoeftige plaaskinders ontferm het, het Mangola glo vroeër die dag op die dorp gaan haal om by hom op die plaas te kuier. Vier plaaskinders het hom vergesel.
Ná die skietvoorval het twee kinders weggehardloop en hulp ontbied, terwyl Mangola op die vlug geslaan het. Hy is die volgende dag in Kroonstad in hegtenis geneem. Raath se pistool is ook in die Valsrivier by Kroonstad gevind.
Mangola bly in aanhouding nadat hy vroeër borgtog geweier is.
Mark Steenbok/OFM-nuus