Local News
Somber atmosfeer by Hoër Landbouskool Jacobsdal─── CHRISTAL-LIZE MULLER 16:21 Wed, 17 Feb 2016

Nico Grobler/Facebook
Jacobsdal - ‘n Somber atmosfeer het vanoggend by die Hoër Landbouskool Jacobsdal geheers nadat ‘n 16-jarige leerling gister in ‘n busongeluk op die R705, sowat 12km buite Jacobsdal, oorlede is.
Nico Grobler, ‘n gr.11 leerling, was onder 19 leerlinge in die skoolbus wat op pad was na ‘n toutrek-byeenkoms by die Hoër Tegniese Skool in Kimberley.
Nico en die 45-jarige Thabo Mokhele van Ritchie in die Noord-Kaap, wie se rooi BMW teen die bus gebots het, is op die toneel dood verklaar.
Die skoolhoof, Henco Gericke, sê die ander kinders in die bus het ligte beserings opgedoen, maar niemand is gehospitaliseer nie.
Volgens Gericke was van die leerlinge vanoggend by die skool, terwyl ander tuis gebly het. Hy sê die skool het vanoggend ‘n spesiale biddiens gehou. Traumaberading is reeds gistermiddag by die skool aan leerlinge en ooggetuies gegee.
OFM-nuus