Local News
Pad by Upington eis nog drie lewens─── MARK STEENBOK 15:11 Thu, 28 Apr 2016

Upington - Drie mans is gister dood en talle beseer na ‘n trompop-botsing op die N14 buite Upington. Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, Jacques September, sê die ongeluk het omstreeks 16:00, twaalf kilometer buite die dorp plaasgevind.
Hy sê die drie mans wat in die ongeluk dood is, was almal insittendes van een voertuig, ‘n Toyota Tazz. Hulle is op die toneel dood verklaar.
Twee vroue en ‘n vyfjarige kind is na die Dr. Harry Surtie-hospitaal op Upington vir noodbehandeling geneem. ’n Derde motor is ook in die botsing beskadig. September sê daar het nog ’n ongeluk later die dag op presies dieselfde plek gebeur.
“Op dieselfde ongeluk op die N14, het ‘n aankomende voertuig in een van die stilstaande voertuie op die toneel vasgery. Daardie persoon se bloed is getrek, en die persoon staar nou ‘n aanklag van dronkbestuur in die gesig. Vroeër die aand in ‘n afsonderlike geval het twee motors voor die Dr Harry Surtie-hospitaal mekaar getref, vier mense is beseer. In Hoopstraat is ‘n persoon ernstig beseer nadat hy in ‘n muur vasgery het,” sê September.
OFM-nuus