Local News
Hertzogville-plaasaanval: Nog niemand vasgetrek─── CHRISTAL-LIZE MULLER 08:37 Fri, 13 May 2016

Hertzogville - Nog niemand is in hegtenis geneem in verband met die aanval op ‘n bejaarde boer en sy vrou op hul plaas by Hertzogville in die Vrystaat nie.
Polisiewoordvoerder, Ian Gaobepe, sê die 78-jarige Gideon Botha en sy vrou is Woensdagmiddag op hul plaas deur drie mans oorrompel.
Volgens hom het die egpaar omstreeks 15:00 van die dorp teruggekeer. Botha se vrou is in die huis in, terwyl hy buite rondgestap het om te kyk of alles in orde is. Gaobepe sê drie mans het Botha buite oorrompel en na die huis gedwing. Sy vrou, wat intussen ook buite was om haar man te gaan soek, is ook in die huis ingedwing. Die egpaar is vasgebind.
Die booswigte het geld geëis. Hulle het aangedring dat Botha die kluis oopsluit. Botha het geweier, waarna die rowers hom geslaan het. Hulle het die huis deurgegaan op soek na waardevolle items en op ‘n slypmasjien afgekom. Gaobepe sê die rowers het die slypmasjien gebruik om die kluis oop te sny. Hulle het ‘n onbekende bedrag geld en ‘n vuurwapen gebuit. Hy sê dit is onbekend of hulle met ‘n motor of te voet op die vlug geslaan het.Gaobepe sê ‘n erg geskokte egpaar kon ‘n paar uur ná die voorval daarin slaag om hulself los te wikkel. Hulp is ontbied.
Die egpaar het hul seun gebel, wat die polisie ontbied het. Hy vra enigiemand met inligting om hul naaste polisiekantoor te bel. Die egpaar het mediese behandeling op die plaas ontvang.
OFM-nuus