Local News
Orania-beweging wil Paul Kruger-standbeeld bewaar─── CHRISTAL-LIZE MULLER 14:29 Thu, 03 Nov 2016

Orania - Die Orania-beweging gaan die bal aan die rol sit om die bekende standbeeld van Paul Kruger op Kerkplein in Pretoria te verwyder sodat dit deur dié beweging in die Noord-Kaap bewaar kan word.
Woordvoerder, James Kemp, sê dié standbeeld loop gereeld deur onder vandale. In die nuutste voorval het EFF-ondersteuners gister vroegoggend tydens ’n protesoptog wat by Kerkplein begin het ‘n brandende voorwerp na die standbeeld gegooi. Dit het tussen die beeld se voete beland en daar uitgebrand. Kemp sê die standbeeld is nie meer veilig nie.
Die Orania-beweging het reeds gistermiddag met onder meer die dorpsraad vergader om 'n plan van aksie saam te stel.
'n Brief gaan aan die Tshwane-metroraad en die minister van kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, gestuur word.
Kemp sê verskeie borsbeelde en monumente van historiese figure in die Afrikaner se geskiedenis het in die afgelope 25 jaar ’n veilige vesting in Orania gevind. Dit sluit in die Ierse Monument, wat in 2002 in Brixton, Johannesburg, afgebreek is.
OFM-nuus