Local News
Bloemfontein se wit perd pronk weer─── 14:56 Fri, 01 Sep 2017
Bloemfontein - ’n Dosyn tuisonderrig-leerlinge van die stad het vandag, vir Lentedag en die eerste dag van Erfenismaand, die Rosestad se bekende wit perd teen die suidoostelike hang van Naval Hill weer mooi gemaak en nuut geverf.
Die tuisskolers het, in samewerking met polisiebeamptes van Navalsig en onder die wakende oë van ’n klompie ma’s, die gebied rondom die perd skoongemaak. Daarna is wit verf, kwasse en verfrollers nadergetrek om die reuse-perd weer spierwit en splinternuut te laat lyk.
Mangaung-metro se parke-afdeling het aan die groep toestemming verleen vir die opknapping van die perd.
Die 15-jarige David Groenenstein sê hy het dié Lentedag-werkery, sy aandeel in die bewaring van hierdie stukkie geskiedenis én die samesyn op die heuwel geniet.
"Ons almal het grawe en besems gebring. Ons het die bossies en gras van die perd afgekry en toe begin verf. Ek wil die perd laat mooi lyk want dis geskiedenis. En ek geniet die samesyn hier op die berg."
Bloemfontein se wit perd is in die Anglo-boereoorlog deur soldate van die Engelse Wilthshire-regiment met witgekalkte klippe teen die hang bo die hedendaagse Raymond Mhlabastraat uitgelê. Dit was ’n baken vir Engelse soldate wat van die slagveld na die stad toe teruggekeer het.
Saam met vandag se skoonmakery het die tuisondderrig-leerlinge ook dié stukkie geskiedenis geleer.
(Kyk hoe mooi wit is die perd nou as jy weer daar langs die hang verbyry.)


