Local News
Boer betrap en wond vermeende inbreker in huis naby Hoopstad─── CHRISTAL-LIZE MULLER 09:52 Mon, 09 Oct 2017

Die polisie in die Vrystaat ondersoek 'n klag van huisbraak nadat 'n vermeende inbreker kort nadat hy deur 'n boer in die Hoopstad-distrik gewond is, aangekeer is.
Polisiewoordvoerder, Stephen Thakeng, sê 'n boer het gister kort ná middernag wakker geword toe sy honde buite sy plaashuis geblaf het. Hy het ondersoek gaan instel en 'n onbekende man in die huis gesien. Thakeng sê die onbekende man het nie 'n klapmus aangehad nie. Die boer, wat gewapen was, het 'n skoot afgevuur en die verdagte in die skouer gewond, waarna die gewonde man vermoedelik te voet op die vlug geslaan het.
Thakeng kon nie bevestig of die boer alleen in sy huis was toe hy die onbekende man betrap het nie. Thakeng kon ook nie sê hoe die verdagte toegang tot die huis verkry het nie. Sover bekend word niks uit die huis vermis nie. Die boer het kort ná die skietery hulp ontbied.
Thakeng sê boere in die distrik en die polisie het vinnig gereageer. Die polisie se honde-eenheid van Welkom, die lugvleuel en plaaslike polisiebeamptes was betrokke by die soektog. Die gewonde verdagte, wat vermoedelik te voet op die vlug geslaan het, is Sondag omstreeks 05:00 in die Tikwana-township by Hoopstad in hegtenis geneem nadat inligting deur die polisie opgevolg is. Die gewonde man is in 'n plaaslike hospitaal onder polisietoesig en sal in die hof verskyn sodra hy uit die hospitaal ontslaan word.
Volgens Thakeng dui inligting daarop dat daar drie ander mans by die voorval betrokke was en nóg inhegtenisnemings kan volg.
Die polisie ondersoek 'n klag van poging tot moord teen die boer. Dit is prosedure, sê Thakeng.
OFM News