Local News
Polisie vra hulp in verband met Valke-kaptein se moord─── MARK STEENBOK 15:19 Wed, 06 Jun 2018

Die polisie in die Vrystaat is op soek na ‘n 28-jarige man wat moontlik kan help met die ondersoek na die moord op ‘n lid van die Valke.
Die 52-jarige Qeya Tshabalala is sowat twee weke gelede by ‘n huis in Taustraat in Rocklands deur drie mans oorval en doodgeskiet.
Tshabalala het na bewering teruggeskiet en een man gewond. Hy het egter later aan sy wonde beswyk, terwyl die aanvallers met sy dienspistool, selfoon en werksvoertuig gevlug het.
Die polisie is steeds op soek twee ander verdagtes nadat Sprinkaan Maema ‘n dag ná die moord naby die Jimmy Roos-skool in Dewetsdorp aangekeer is. Hy het hierdie week sy tweede verskyning in die plaaslike landdroshof gemaak.
Maema sal na verwagting op 13 Junie vir borg aansoek doen. Hy is nie ver vanwaar Tshabalala se staatsvoertuig gevind is, deur die polisie aangekeer nie.
Tshabalala, wat aan die eenheid teen ernstige georganiseerde misdaad verbonde was, is verlede Saterdag in sy tuisdorp, Qwaqwa, ter ruste gelê.
Die waarnemende hoof van die Valke, Yolisa Matakata, het vroeër die moord ten sterkste veroordeel.
Die polisie hoop nou dat die 28-jarige Lereng John Meku met die ondersoek kan help. Enigiemand met inligting oor die verdagtes of getuie kan die ondersoekbeampte skakel.
OFM-nuus