Local News
Koffiefontein-polisiemoorde: Skuldiges 'n jaar later nog op vrye voet─── MARK STEENBOK 15:32 Fri, 29 Jun 2018

Daar heers steeds baie vrae presies ‘n jaar nadat ‘n koelbloedige, dubbele polisiemoord die klein Vrystaatse dorpie, Koffiefontein, geruk het.
Op die aand van 29 Junie is konstabels Obert Mekoa en Mzonani Majo, na bewering terwyl hulle aan diens was, by die gemeenskapsdienssentrum op die dorp doodgeskiet. Daar word beweer dat hulle geskiet is deur mense wat hulle gedink het om hulp by die polisiekantoor kom aanklop het.
Kollegas het omstreeks 04:00 die oggend op die twee se lyke met skietwonde afgekom. Een van die konstabels is in die kop geskiet, die ander konstabel is in die kop en rug gewond.
‘n Jaar later en ten spyte van ‘n beloning van R300 000 wat aan persone met enige inligting gebied is, blyk dit daar nie goeie vordering met die ondersoek gemaak word nie. Tot op hede is nog niemand in verband met die opspraakwekkende moorde in hegtenis geneem nie.
‘n Ondersoek is kort ná die moorde van stapel gestuur terwyl die Valke, wat die ondersoek oorgeneem het, ook na ‘n aanklag van gewapende roof kyk aangesien een van die beamptes se vuurwapen vermoedelik vermis word.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens op Koffiefontein sou na verwagting vandag ‘n herinneringsdiens vir Konstabel Obert Boitumelo Mekoa hou, wat op Koffiefontein begrawe is. Mzonani Majo is in Botshabelo begrawe. Tyd sal egter leer wanneer geregtigheid vir die families van die twee konstabels sal geskied.
Die polisie in Bloemfontein het vroeër OFM-nuus se navrae na die Valke verwys. Die Valke se woordvoerder, Hangwani Mulaudzi, was nie onmiddellik vir kommentaar beskikbaar nie.
OFM-nuus