On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Local News

Mediese student gesels oor sy Kubaanse ervaring

───   MARK STEENBOK 12:25 Mon, 09 Jul 2018

Mediese student gesels oor sy Kubaanse ervaring | News Article
Ana Guerra en Eathon Pekeur

Een van die 260 opgeleide mediese studente uit Kuba, wat die afgelope naweek ná ses jaar se bloed, sweet en trane na Suid-Afrika teruggekeer het, sê hy is gereed om ‘n positiewe bydrae tot die land se gesondheidstelsel te lewer.


Suid-Afrika ervaar nou al vir etlike jare ‘n tekort aan bekwaamde mediese personeel.

Die Adjunkpresident, David Mabuza, en die Minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, het Saterdag die studente op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg ingewag om hulle amptelik terug in die land te verwelkom. Een van die studente, Eathon Pekeur, oorspronklik van Springbok in die Noord Kaap, het aan OFM-nuus gesê dat dit ‘n wonderlike gevoel is om weer terug in die land te wees.

“Jy weet dit was ‘n baie ‘n groot voorreg om te sien hoe die mense jou terugverwelkom. Ons het ‘n groot verantwoordelikheid gehad om ons land se mense trots te maak. Dit is net absoluut wonderlik om weer tuis te wees.”

Pekeur, wat nou sy finale jaar by die Mediese Skool van die Universiteit van die Vrystaat gaan voltooi, sê dit was aanvanklik ‘n bietjie van ‘n aanpassing om in die vreemde aan te pas.

“Ons moes vir ‘n volle jaar Spaans leer, aanpas by die mense, die kos en hulle manier van doen. Toe ek daar geland het, was daar byvoorbeeld nie internet gewees nie so ek kon nie kontak met my familie maak nie. Ons moes maar aanpas, want daar is opofferings gemaak. Kyk, ons Suid-Afrikaners pas mos maar gewoonlik baie goed aan en skrik nie vir ‘n nuwe uitdaging nie,” sê Pekeur.

Volgens hom is die mediese fokus in Kuba meer op primêre gesondheidsorg. “Elke klein dorpie het sy eie dokter. Die dokters ken hulle gemeenskappe, hy of sy ken die tekortkominge in daardie gemeenskap en wat die risikofaktore is en hoe om te werk te gaan. Ons as mediese studente het saam met daardie dokters gewerk om vooruit te beplan om die siektes te verminder en te vermy.”

Pekeur sê hy en sy mede-studente is slaggereed om ‘n verskil in die land te maak. “Ons is goed voorbereid vir die taak wat voorlê. Ons wil fokus op goeie gehalte primêre gesondheidsorg en ons wil ook die druk op ons hospitale verminder, sodat mense nie weer in lang rye hoef te wag nie. Elke dorp moet toegang tot goeie gesondheidsorg hê en gemeenskappe en dokters moet saamwerk om die lewensverwagting van ons mense te verleng,” sê Pekeur.

Die mediese studente sal oor die volgende agttien maande hulle finalejaarstudie en integrasie by verskeie universiteite regoor die land voltooi as deel van die Nelson Mandela Fidel Castro (NMFC) mediese samewerkingsprogram met die Departement van Gesondheid.

Pekeur se raad aan jong mense wat die buiteland wil aandurf, is eenvoudig. “Moenie moed opgee as dit moeilik gaan nie, as jy jou drome volg, gaan dit nie altyd maklik wees nie. Ons moet probeer om ons koppe bo water hou, want harde werk sal beloon word,” sê Pekeur.


OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.