Agriculture
Landbounuus-podcast: Droogte het skaapboere in geldelike knyptang─── CHRISTAL-LIZE MULLER 11:43 Mon, 04 Nov 2019
Die voortslepende droogte in die Noord-Kaap het skaapboere in 'n geldelike knyptang.
Die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) in dié provinsie se voorsitter, Fanie Dippenaar, sê die lewering van wol, veral in terme van die gewig daarvan, het afgeneem, maar die gehalte van die gelewerde wol is steeds goed. Hy sê op 'n onlangse vergadering van die NWKV was die oorwoë mening dat lede hul inkomste met 30% moet sny. Dit kom daarop neer dat die 0.25% van NWKV-lede se vrywillige bydrae, wat direk gekoppel aan hul inkomste is, ook besnoei word.
Daarmee saam het die Suid-Afrikaanse wolmark 'n styging getoon en die negende nasionale wolveiling in die 2019/20-seisoen het selfs beter as die Australiese mark presteer. Die Cape Wools-wolaanwyser het verlede week met 6,8% of 1 161 punte hoër verhandel en teen 'n skoonprys van R181,48 gesluit. Die Australiese mark het met 3,2% gestyg, terwyl die rand 3,3% swakker teen die Amerikaanse dollar verhandel het. Heindrich Victor, operasionele bestuurder van vesel by OVK, sê gehalte wol is gelewer. Hy sê die volume wol wat gelewer word, bly egter steeds onder druk weens die voortslepende droogte in produksiegebiede soos die Noord-Kaap, nadat die volume gelewerde wol bykans 14% laer was as die oorstemmende periode verlede jaar.
EN
Die polisie in die Vrystaat maan gemeenskappe om nie beeste, wat hulle vermoed gesteel is, by booswigte te koop nie. Dit kom nadat twee mans na verwagting vandag in die Thaba Nchu-landdroshof op aanklagte van veediefstal verskyn nadat hulle met 'n beweerde gesteelde bees ter waarde van R9000 betrap is. Polisiewoordvoerder, Martin Xuma, sê die eienaar van die bees het Vrydag vermoed 'n bees wat aan hom behoort, is gebuit. Die polisie en lede van die Selosesha-veediefstaleenheid het vinnig gereageer en die verdagtes, wat van Lesotho afkomstig is, is betrap nie ver vanwaar die bees gesteel is nie. Hulle wou dié dier na bewering vir R4 500 lewend verkwansel.
OFM-nuus
