On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Lamb Champs wil waarde van lamsvleis verhoog

───   11:02 Tue, 24 Nov 2026

Lamb Champs wil waarde van lamsvleis verhoog | News Article
Lamb Champs wil voortbou op die sukses van sy veilings vanjaar om verbruikersvraag na Suid-Afrikaanse lamsvleis aan te wakker. Foto verskaf

Lamb Champs wil voortbou op die sukses van sy veilings vanjaar om verbruikersvraag na Suid-Afrikaanse lamsvleis aan te wakker, dit as ’n premiumproduk te posisioneer en nuwe handelsgeleenthede vir familieboere te skep.

Suid-Afrikaanse skaapboere het vanjaar meer as R1,4 miljoen deur die verkoop van 166 lotte op vier Lamb Champs-veilings in Pretoria, Bloemfontein en die Boland verdien. Die gemiddelde verkoopprys was R8 541 per lot, terwyl twee individuele lammers elk R100 000 behaal het.

Iné Bester, Lamb Champs-bedryfshoof, sê die veilingsuitslae illustreer die potensiaal om groter verbruikersbewustheid oor die gehalte en oorsprong van Suid-Afrikaanse lamsvleis te skep. Die uitsonderlike pryse verteenwoordig nie gewone kommersiële lamspryse nie, maar weerspieël die waarde wat verbruikers aan die kundigheid en toewyding van produsente kan heg.

“Wanneer verbruikers bereid is om R100 000 vir ’n lam te betaal, koop hulle heelwat meer as ’n stuk vleis. Hulle gee erkenning aan geslagte se teling, jare se belegging, die kundigheid van ’n boer en die toewyding van ’n boeregesin.”

Die doel met Lamb Champs is om ’n bedryf te bou waarin die produksie van uitsonderlike lamsvleis gevier word. Foto: Facebook

Hennie Jonker, ’n Hampshire Down-teler van Kroonstad in die Vrystaat en die nasionale Lamb Champs-kampioen van 2025, het vanjaar die hoogste prys per kilogram behaal. Sy lam van 21,4 kg is op 31 Oktober by die eerste Lamb Champs Invitational in Pretoria verkoop vir R100 000, oftewel R4 672,90/kg.

Die streekveiling in Pretoria het R459 700 uit die verkoop van 62 lotte opgelewer, gevolg deur die Boland, waar 50 lotte vir R406 450 verkoop is. Die 34 lotte in Bloemfontein het R258 200 opgelewer, terwyl die 20 lotte by die Invitational vir R293 500 verkoop is.

Bester sê een van die grootste uitdagings in die landbousektor is die groeiende verwydering tussen verbruikers en voedselprodusente. 

Hennie Jonker, ’n Hampshire Down-teler van Kroonstad en die nasionale Lamb Champs-kampioen van 2025, het vanjaar die hoogste prys per kilogram behaal. Foto: Lamb Champs

Hoewel boere in genetika, dieregesondheid, voeding, veldbestuur en produksiepraktyke belê, word hul produkte grootliks as anonieme kommoditeite aan verbruikers voorgehou.

“Daar word voortdurend vir boere gesê hulle moet meer doeltreffend word, produksiekoste verlaag en volumes verhoog om winsgewend te bly. Hoewel dit belangrike oorwegings is, moet ons ewe veel aandag skenk aan hoe ons die waarde van dit wat boere produseer, kan verhoog.”

Lamb Champs het vanjaar deur sy streekkompetisies, televisiereeks en kleinhandelvennootskap met Pick n Pay duisende verbruikers met skaapboere in aanraking gebring. Die eerste Invitational het ook ’n nuwe mededingingsformaat bekendgestel, gegrond op internasionale sportkompetisies, waarin boere in spanne teen mekaar meeding.

“Daar is geen rede waarom Suid-Afrika se beste skaapboere nie huishoudelike name moet wees nie. Ons vier ons beste rugbyspelers, gholfspelers, sjefs en wynmakers, maar baie min verbruikers kan die naam noem van die boer wat hul gunstelingvleissnit produseer.”

Die veilings, wat in samewerking met veilingsvennoot SwiftVEE aangebied word, bied ondernemings en individue die geleentheid om familieboere finansieel te ondersteun. Die publisiteit rondom uitsonderlike veilingspryse kan terselfdertyd bewustheid oor die breër skaapboerderybedryf en die ekonomiese belangrikheid daarvan bevorder.

“Ons wil nie bloot bepaal wie Suid-Afrika se beste lamsvleis produseer nie. Ons wil ’n bedryf bou waarin die produksie van uitsonderlike lamsvleis gevier, erken en finansieel beloon word.”

OFM Agri cvs

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.