On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

CompEasy – Die vergoedingsfonds se aanlynstelsel

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Tue, 15 Mar 2022

CompEasy – Die vergoedingsfonds se aanlynstelsel   | News Article

Die rede vir die bestaan van die vergoedingsfonds is om kwalifiserende werkers wat aan diens seergekry het te vergoed.

In 'n onderhoud met Stephan Pietersen, stigter van Work Accident Support, vind OFM-nuus se Elsabé Richard meer uit oor die dokumentasie wat aanlyn opgelaai en vorms wat ingevul moet word indien ‘n werker aan diens sou seerkry. 


Sien onderstaande PODCAST


Pietersen benadruk dat die Vergoedingsfonds die laaste paar jaar van ‘n paar aanlynstelsels gebruik gemaak het waar werksbeserings geregistreer moet word.  

Die Vergoedingsfonds maak tans gebruik van die CompEasy-stelsel wat in 2019 geïmplementeer is, en voordat enige persoon die stelsel kan gebruik, moet hy/sy eers as ‘n gebruiker geregistreer wees. Daar is ook ‘n paar dokumente wat opgelaai moet word om aansoek te doen, en die gebruiker sal bevestiging per epos kry sodra die aansoek goedgekeur is.  


Lees ook: Produsente moet loonopgawes by Vergoedingsfonds verklaar


Wat is die dokumente waarna jy verwys wat opgelaai moet word?

Die gebruiker moet ‘n gesertifiseerde afskrif van sy/haar identifikasiedokument (ID) oplaai en die volgende moet deur die produsent verskaf word:

  1. ‘n Gesertifiseerde afskrif van die produsent se ID;
  2. Bewys van adres van die plaas;
  3. Magtigingsbrief om toestemming te gee dat die gebruiker namens die produsent kan optree
  4. Nominasievorm (die is ‘n voorgeskrewe vorm van die Vergoedingsfonds wat deur die gebruiker en die produsent geteken moet word);
  5. Indien die besigheid as ‘n private maatskappy geregistreer is, moet die CIPC-registrasie dokument ook opgelaai word.
  6. Belangrik om te onthou is dat die ID’s binne die laaste 3 maande gesertifiseer moet wees.


Lees ook: Nagevolge vir boere wat nie aan nodige vereistes voldoen nie


Sodra die CompEasy registrasieproses afgehandel is en ‘n werker het seergekry by die werk, wat is die produsent veronderstel om te doen?

Eerstens moet die werkgewer se verslag oor ‘n ongeval voltooi word, wat die produsent of bestuurder, of ‘n toesighouer moet teken en nooit die beseerde werker nie. Vandaar moet die werker na die naaste mediese dokter geneem word vir behandeling.

Dit is die produsent se verantwoordelikheid om toe te sien dat die werker vervoer word na die dokter en ook weer opgetel word by die dokter.

Die onkoste wat aangegaan word kan deur die Vergoedingsfonds terugbetaal word.


Is daar enige vorms wat die dokter moet voltooi?

Die dokter moet ‘n Eerste Mediese verslag voltooi wat die prognose van die werker se toestand beskryf.

Baie belangrik is dat die dokter ook moet aandui tot wanneer die beseerde werker afgeboek is aangesien die Vergoedingsfonds die datum nodig het vir die terugbetaling van lone aan die produsent.  


Wat gebeur ná dié proses?

Die werkgewer se verslag met ‘n afskrif van die werker se ID, loonstaat en die medieseverslag, moet aanlyn opgelaai word op die CompEasy-stelsel om die besering aandiens te registreer.

Die loonstaat is veral belangrik om te bewys dat die werker wel werk by die produsent, asook om die lone te bevestig.

Indien ‘n loonstaat nie beskikbaar is nie kan die produsent ‘n brief opstel om die lone te bevestig.

Sodra al die dokumente opgelaai is, sal die eisnommer onmiddellik beskikbaar wees en die produsent moet rekord hou hiervan. Daarna sal die Vergoedingsfonds die eis aanvaar vir die betaling van vergoeding en redelike mediese onkoste in terme van die Wet.

Ongelukkig is daar soms probleme om ‘n gebruiker te registreer op die stelsel, maar omdat dit so belangrik is om die stelsel te gebruik vir die rapportering van werksbeserings, moet 'n mens gereeld navraag doen by die departement indien aansoek gedoen is.

In dié stadium kan die stelsel ongelukkig nie beserings aandiens registreer van werkers met paspoorte nie, en dit moet by die naaste Departement van Indiensneming en Arbeid ingehandig word om beserings van buitelanders te rapporteer.

Indien jy enige vrae het of meer oor hierdie onderwerp wil weet, kontak Pietersen by 064 360 2638 of stuur ‘n epos na support@workaccident.co.za. Besoek www.workaccident.co.za vir meer inligting.



OFM-nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.