On Now
Weekends 05:00 - 06:00
Opstaan Anny
NEXT: 06:00 - 09:00 Weekend Breakfast with Gerben and Anny
Listen Live Streams

Agriculture

Onvoldoende gif vir sprinkaanbestryding ‘n uitdaging in Noord-Kaap

───   ELSABÉ RICHARD 07:42 Tue, 22 Mar 2022

Onvoldoende gif vir sprinkaanbestryding ‘n uitdaging in Noord-Kaap | News Article
Jansen deel dat die departement 600 000 liter van hierdie gif gedurende hierdie seisoen nodig gehad het. FOTO: BBC

Een van die uitdagings wat die Departement van Landbou in die gesig staar, is ‘n tekort aan gif om sprinkane effektief te kan bestry.

Sien onderstaande PODCAST

Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, sê die departement werk hard daaraan om die gif te kan bekom. 

Hy deel dat die departement 600 000 liter van hierdie gif gedurende hierdie seisoen nodig gehad het.

Lees ook: Sprinkaanbestryding nog volstoom in NK aan die gang

Jansen sê dit lyk egter of daar ‘n uitdaging sal wees vir die voortgesette verkryging van gif om sprinkaanswerms mee te bestry.

"Die departement is uiters laag op voorraadvlakke. Van die store is reeds leeg en daar is nog voorraad by van die sprinkaandistrikbeamptes. Maar daar is nie voldoende voorraad om ons verder te vat met die bestryding van hierdie plaag nie.

"Dit is uiters kommerwekkend, maar dis omdat ons so ‘n geweldige groot uitbraak het en so geweldig baie [gif] moes gebruik."

Jansen voeg verder by dat dit ‘n groter uitdaging is om op kort kennisgewing van hierdie gifstowwe te bekom omdat dit baie spesifiek is. 

Lees ook: Sprinkaanswerms in Noord-Kaap is geweldig dig

Agri Noord-Kaap, in samewerking met Agri SA, is besig om te kyk na alternatiewe saam met die provinsiale departement om op 'n deurlopende basis sprinkane te kan bestry.

Daar ontstaan ook kommer dat sprinkane nou in gebiede voorkom waar dit nie tradisioneel voorkom nie, soos in die Klein Karoo. Jansen sê swerms kan selfs Oudtshoorn bedreig wat een van die dae die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) aanbied. 

OFM-nuus het vroeër berig dat die provinsiale landbou-departement twee helikopters bekom het om te help met die bestryding van sprinkane. Die departement se woordvoerder, Zandisile Luphahla, het voorheen gesê gebiede wat deur uitbrekings geraak word, sluit in Upington, Britstown en De Aar.

Jansen versoek intussen motoriste om versigtig te bestuur wanneer hulle hierdie swerms sprinkane op die teerpad sien. Voertuie se padhouvermoë word benadeel, dus moet motoriste stadiger ry.

Hy vra dat sprinkaanswerms by die Departement van Landbou of betrokke landbou-organisasie aangemeld moet word.

Sprinkaanswerms kan ook by die volgende nommers aangemeld word: De Aar-depot - 053 631 3621 of Upington-depot - 082 457 2906.



OFM-nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.