Agriculture
Agri-Uur: Jongste Safex-nuus─── 05:00 Tue, 05 Apr 2022
Hierdie verslag word deur Graan SA (GSA) verskaf.
Mielies:
Die Amerikaanse mark het Vrydag ondersteuning verloor en effens swakker verhandel. Laer energiepryse, tegniese verkope en verliese in die sojaboon mark het pryse onder druk geplaas.
Nuwe seisoenkontrakte was effens hoër weens laer intensies om mielies te plant in Amerika. Markte is besig om te besef dat daar ‘n moontlikheid is vir ‘n kleiner internasionale mielie-oes weens die Oekraïne wat afwesig is in die uitvoermark en laer-as-verwagte intensies om te plant deur Amerikaanse produsente.
Plaaslik: Die plaaslike mieliemark het goed presteer met al die gelyste kontrakte wat in die groen verhandel het. Witmieliepryse het tot en met 1,5% gestyg en geel mielies 1,25%. Die verskil tussen wit- en geelmielies staan tans op R147.
Die witmieliekontrak het vir April R59/ton sterker verhandel vir die dag om teen R3 968/ton te sluit. Witmielies vir lewering in Julie het R48/ton sterker verhandel teen R4 005/ton.
Die geelmieliekontrak vir April 2022 het R40/ton sterker verhandel teen R4 115/ton. Die geelmieliekontrak het vir lewering in Julie R51/ton sterker verhandel om teen R4 174/ton te sluit.
Sojabone:
Die Amerikaanse sojaboonmark het sy afwaartse tendens voortgesit in die vorige sessie nadat China aangekondig het dat hy ‘n gedeelte van sy sojaboonvoorraad gaan ontslae raak.
Nuwe seisoenpryse het gesukkel om sy kop bo $14/skepel te hou terwyl markte moet gewoond raak aan die rekord-oes van 91 miljoen akkers wat Amerikaanse produsente van plan is om aan te plant.
Argentinië is onlangs getref deur ryp, dit volg op die droogte wat hulle hierdie seisoen ervaar het. Beide sojaboon en mielieproduksie vooruitsigte is verder verlaag.
Plaaslik: Die plaaslike sojaboonmark Maandag presteer swak na aanleiding van ‘n swakker Amerikaanse mark. Pryse het tot en met 0,7% gedaal vir die sessie. Al die gelyste kontrakte het in die rooi verhandel.
Die sojaboon April ’22-kontrak het R31/ton swakker verhandel teen R8 332/ton. Die sojaboon Mei ’22-kontrak het R63/ton swakker verhandel teen R8 350/ton. Die sojaboon Julie ’22-kontrak het teen R8 445/ton, R65/ton swakker, verhandel.
Koring:
Die Amerikaanse koringmark het afwaarts verhandel in die vorige sessie met die mark wat terugbeweeg na 'n ewewig ná skokke veroorsaak deur die Rusland-Oekraïne oorlog. Pryse het tot en met 2% gedaal weens ‘n rondte tegniese verkope en winsneming.
Ondanks eindelose probleme, is die Oekraïnse produsente besig om voor te berei om die seisoen se oes in die grond te kry. Die land is besig om sy uitvoerprogram voort te sit deur graan na buurlande te skuif. Vervoer is net baie stadig. Die verwagte toename in aanvraag vir Amerikaanse koring het nie gerealiseer nie en koringuitvoer is tans laer as verwag.
Plaaslik: Die plaaslike koringmark het beter as sojabone presteer met al die gelyste kontrakte wat in die groen verhandel het. Winste was maar marginaal.
Die koring April '22-kontrak het teen R6 698/ton verhandel, R71/ton hoër. Die koring Mei ’22-kontrak het teen R6 670/ton verhandel, R36/ton hoër.
