Agriculture
Agri-Uur: Jongste Safex-nuus─── 05:00 Mon, 02 May 2022
Hierdie verslag word deur Graan SA (GSA) verskaf.
Mielies:
Die CBOT-mieliekontrakprys vir die naaste handelsmaand het Vrydagoggend met 0,1% gestyg.
Alhoewel die toename marginaal is, bly die mark “bullish” te midde van plantvertragings in die VSA tesame met uitvoeruitdagings in die Oekraïne. In die weeklikse Amerikaanse mielie-uitvoerverslag het uitvoerverkope 'n totaal van 866 800 ton mielies vir die 2021/22-bemarkingsjaar beloop. Dit is 1% laer as die vorige week en 5% hoër as die vier-week gemiddelde. Netto verkope was na berig 843 400 ton vir die 2022/23 bemarkingseisoen. Bestemmings was hoofsaaklik na China (612 000 ton); Mexiko (190 800 ton) en Japan (40 600 ton).
Die plaaslike SAFEX-mieliekontrakte het Vrydag gemeng verhandel vir beide wit- en geelmieliekontrakte. Daar was wel groter prysstygings gesien vir die geelmieliekontrakte. Die witmieliemark het, vir lewering in Julie 2022, R9/ton (+ 0,20%) gestyg om teen R4 585/ton te sluit. Die geelmieliemark het vir lewering in Julie 2022, R18/ton (+ 0,39%) hoër te verhandel en teen R4 729/ton te sluit.
Sojaboon:
Die CBOT-sojaboonkontrakprys vir die naaste handelsmaand het Vrydagoggend met 1,2% gestyg.
In die weeklikse Amerikaanse sojaboonuitvoerverslag het uitvoerverkope altesaam 481 300 ton sojabone vir die 2021/22-bemarkingsjaar beloop. Dit is 5% hoër as die vorige week, maar 37% laer as die vier-week gemiddelde. Netto verkope was na berig 580 000 ton vir die 2022/23 bemarkingseisoen. Bestemmings was hoofsaaklik na China (468 000 ton) en Mexiko (112 000 ton).
Die binnelandse sojaboonkontrakte het Vrydag weer met skerp opwaartse tendense verhandel. Die plaaslike sojaboonmark het vir lewering in Mei 2022 met R125/ton (+ 1,30%) hoër verhandel om uiteindelik te sluit op R9 739/ton.
Koring:
Die CBOT-koringkontrakprys vir die naaste handelsmaand het Vrydagoggend met 0,6% gedaal.
In die weeklikse Amerikaanse koringuitvoerverslag het uitvoerverkope altesaam 32 300 ton koring vir die 2021/22-bemarkingsjaar beloop. Dit is 23% hoër as die vorige week, maar 65% laer as die vier-week gemiddelde. Netto verkope was na berig word 124 300 ton die 2022/23 bemarkingseisoen. Bestemmings was hoofsaaklik na die Filippyne (60 000 ton); Japan (33 700 ton) en Chili (23 000 ton).
Die Oekraïne se ministerie van buitelandse sake het Rusland daarvan beskuldig dat hy graan gesteel het uit gebiede wat Rusland beset het.
Die binnelandse koringkontrakte het Vrydag effens afwaarts verhandel. Die plaaslike koringmark het vir lewering in Mei 2022 met R3/ton (- 0,04%) laer verhandel om uiteindelik te sluit op R7 495/ton.
Vir meer inligting oor die huidige kommoditeits mark, besoek gerus Graan SA se webtuiste.
