On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Voordele van die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en Siektes

───   ELSABÉ RICHARD 05:00 Tue, 28 Jun 2022

Voordele van die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en Siektes | News Article
FOTO: Sabrina Dean.

Produsente het onlangs hulle jaarlikse loonopgawe by die Vergoedingsfonds ingehandig om hulle rekeninge te betaal.

OFM-nuus se Elsabé Richard-May gesels met Stephan Pietersen, die stigter van Work Accident Support, om uit te vind wat die voordele van hierdie inhandiging is.

Sien onderstaande PODCAST

Wat is die rede dat produsente hulle loonopgawes jaarliks moet inhandig?

In terme van hierdie wetgewing kwalifiseer produsente en beseerde wekers vir voordele as 'n werker seer sou kry. Die nuutste inligting is dat die Vergoedingsfonds R4,1 miljard in voordele uitbetaal het vir die jaar 2020/21. Dit sluit in mediese onkostes aan mediese diensverskaffers, vergoeding aan besighede vir die betaling van salarisse en werkers wat permanente beserings opgedoen het, asook families wat werkers aan die dood afgestaan het.

LEES OOK: Loonopgawes is ingehandig, wat nou?

Voordat daar vir die voordele aansoek gedoen word, wat is die eerste proses wat 'n produsent moet volg?

In 2012 het die Vergoedingsfonds die proses oor hoe jaarlikse loonopgawes ingehandig moet word, verander. Daarmee saam het die Fonds ook in 2019 die proses van hoe 'n werksbesering gerapporteer moet word, verander.

Die Fonds het 'n nuwe stelsel laat ontwerp, genaamd CompEasy, wat gebruik word om werksbeserings te rapporteer. Maar voordat dit gedoen word, moet 'n produsent of iemand wat namens 'n produsent optree, 'n profiel skep.

LEES OOK: CompEasy – Die vergoedingsfonds se aanlynstelsel

Hierdie is 'n baie belangrike proses want alvorens 'n profiel nie geskep word nie, gaan dit dae neem voor 'n werksbesering gerapporteer kan word, aangesien daar na die naaste Departement van Arbeid gegaan moet word.

Sekere arbeidsdepartemente weier reeds om werksbeserings per hand te rapporteer en hulle raai besighede eenvoudig aan om die profiel te skep om die besering self te rapporteer.

Watter vorms moet voorsien word aan die Fonds?

Daar is 'n paar vorms wat voorsien moet word, maar ongelukkig is daar ietwat van 'n probleem wat ek opgetel het tussen die memo wat deur die Fonds uitgereik was en wat die stelsel voorskryf, wat voorsien moet word.

Die spesifieke vorm waarna ek verwys, is 'n benoemingsvorm wat volgens memo verskaf moet word, maar op die elektroniese stelsel is daar geen voorsiening gemaak om die vorm aan te heg nie.

LEES OOK: Maak seker jou boerdery is onder die regte sub-klas geregistreer

Produsente moet die vorm aanheg met byvoorbeeld die magtigingsbrief, want sonder die benoemingsvorm sal die aansoek afgekeur word. 'n Tweede probleem is 'n CIPC-registrasiesertifikaat wat aangeheg moet word - dit is nou vir daardie produsente wat as private maatskappy gestig is.

Maar wat as 'n Produsent as 'n eenmansaak gestig is?

In so 'n geval sal ek voorstel dat sulke produsente slegs 'n brief opstel en melding maak hiervan en dit aanheg.

Produsente moet ook 'n bewys van adres kan voorsien van die plaas en 'n gesertifseerde afskrif van die eienaar of direkteur se identiteitsdokument (ID). Sodra die aansoek goedgekeur is, sal 'n produsent of 'n derde party werksbeserings kan registreer. Werksbeserings van buitelanders kan ongelukkig in dié stadium nie op die stelsel gerapporteer word nie en moet by die naaste Departement van Arbeid aangemeld word.

In ons volgende gesprek sal ons verder gesels oor die voordele waarvoor produsente kan aansoek doen.

Stephan Pietersen, 064 360 2638, support@workaccident.co.za



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.