On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Michael
Listen Live Streams

Agriculture

Landbou slaak ‘n sug van verligting ná die herroeping van #Covid19-regulasies

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Wed, 29 Jun 2022

Landbou slaak ‘n sug van verligting ná die herroeping van #Covid19-regulasies | News Article
FOTO: Photoxpress.

Suid-Afrikaners, wat landbougemeenskappe insluit, is oor die algemeen verheug nadat die regering ‘n week gelede aangekondig het dat Covid-19 regulasies geskrap word.

Alhoewel die landbousekor as essensieel verklaar is gedurende die harde grendeltydperk, sê Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, het die sektor ook talle uitdagings in die gesig gestaar. 

Sien onderstaande PODCAST

“Verseker gee die boere en verwante bedrywe ‘n sug van verligting vir ‘n era wat hopelik verby is. Ons kan egter nie die realiteit van die pandemie misken nie. [Ons] simpatiseer met elkeen wat ‘n geliefde vanweë hierdie nare virus aan die dood afgestaan het,” sê Jansen.

Hy reflekteer veral op die harde inperkingsmaatreëls aan die begin van die pandemie in 2020 en deel dat chaos aan die orde van die dag was wanneer produsente padblokkadebeamptes moes oortuig het dat “die gaan haal van ‘n stroperpart in Johannesburg essensieel is vir die produksie van kos.

ALSO READ: Government to appeal tobacco ban ruling

“Om nie eens te praat van die drama om die part uit die verskaffer se stoor in Johannesburg te kry nie.”

Landbou, tesame met sektore soos gesondheid, kon soos normaal voortgaan, maar Jansen sê nie al die vertakkinge van die landbousekor kon winsgewend verder produseer nie. Die tabak- en drankbedryf is swaar geraak deur maatreëls wat deur die regering in plek gestel is om die versprei van die virus hok te slaan.

“Die tabakbedryf is baie swaar getref met die beperking op die handel in sigarette, wat die smokkelhandel laat floreer het. Permanente skade is aangerig aan die bedryf se afset en bemarkingskanale, wat die boere baie negatief geraak het.”

Volgens Jansen het die druiwewingerdboere ook permanente skade opgedoen met die kontantvloei-uitdagings wat veroorsaak is met die opskorting van die verkoop van wyn en sterk drank.

“Geen bedryfsvertakking kan onverpoosd produseer as daar beperkings aan die voorkant met die verkope geplaas word nie. Die waardeketting is direk verbind met produksie. Die geld moet vloei anders gaan iemand met die kontantvloei probleem sit, en dis gewoonlik die boer wat primêr produseer,” vertel Jansen verder.

ALSO READ: #Covid19: Masks no longer required

Opheffing van Covid-19-regulasies

Jansen se terugblik van die afgelope twee jaar volg nadat die Minister van Gesondheid, Joe Phaahla, op 23 Junie 2022 tydens ‘n mediakonferensie bekend gemaak het dat daardie dag ‘n geskiedkundige dag is aangesien Suid-Afrika 'n keerpunt bereik het sedert die uitbreek van Covid-19 in die wêreld en in dié land.

Phaahla het toe bygevoeg dat weens deeglike oorweging is daar besluit dat die dra van maskers binnenshuis, die beperkings van byeenkomste en dat die inentingsbewys of negatiewe toetse by hawens van binnekoms almal opgehef moet word.

Landbougemeenskap staan leiers aan die dood af weens Covid-19

Die landbougemeenskap het gedurende die pandemie talle leiers in die sektor weens die virus aan die dood afgestaan.

OFM-nuus het vroeër vanjaar berig dat een van Bothaville se leierboere, Bully Bothma, in die ouderdom van 71 jaar oorlede is. Dié Vrystaatse boer was vir baie jare voorsitter van Nampo en Graan SA. Bothma was ook vise-president van Agri SA. Sy vriend, Japie Grobler, beskryf hom as 'n mense-mens wat 'n groot passie vir landbou en sy medemens gehad het. Bothma is in Junie 2021 weens Covid-19 verwante komplikasies in die hospitaal oorlede.

LEES: DA mourns death of Bully Bothma

‘n Bekende boer in Namakwaland in die Noord-Kaap is in Julie 2021 weens Covid-19 verwante komplikasies oorlede. Die 52-jarige Lionel Cloete, 'n boer en beampte by die Noord-Kaapse Departement van Openbare Werke en Paaie, was wyd bekend vir sy bydrae om die impak wat die langdurige droogte in die gebied op boere en voedselsekuriteit gehad het, aan die lig te bring. As die ondervoorsitter van die Steinkopf Boerevereniging, het hy gehelp om verskeie voerskenkings en bydraes as droogtehulp vir boere te bewillig. OFM-nuus het verkeie kere oor die jare met hom gesels. 

In Augustus 2021, is Koos Pienaar, 'n bekende leierboer in die Theunissen-distrik, in die Vrystaat aan Covid-19 verwante komplikasies oorlede. Pienaar was veral bekend in georganiseerde landboukringe as voorsitter van die Nasionale Melkprodusentevereniging. OFM se Pieter Moller sê Pienaar het in sy plaaslike gemeenskap baanbrekerswerk verrig om die sakelui, munisipaliteit en ander gemeenskappe te laat saamwerk om ‘n ekonomiese oplewing te bewerkstellig.

OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.