Agriculture
Agri-Uur: Jongste Safex-nuus─── 05:00 Tue, 12 Jul 2022
Hierdie verslag word deur Graan SA (GSA) verskaf.
Mielies:
Die CBOT-mieliekontrakprys vir die naaste handelsmaand het Maandagoggend met 4,18% gestyg.
VSA mieliepryse word ondersteun deur kommer oor voortslepende droogte, wat opbrengste tydens die piekbestuiwingstadium kan beïnvloed. Die WASDE-verslag word Dinsdagaand vrygestel. Markdeelnemers verwag dat Amerikaanse mielieproduksie en eindvoorraad opwaarts hersien sal word.
Die plaaslike SAFEX-mieliekontrakte het Maandag skerp opwaarts verhandel vir beide wit- en geelmieliekontrakte. Die witmieliemark het, vir lewering in Julie 2022, R156/ton (+ 3,61%) geklim om teen R4 480/ton te sluit. Die geelmieliemark het vir lewering in Julie 2022, R158/ton (+ 3,69%) hoër verhandel om teen R4 440/ton te sluit.
Vir die week geëindig 1 Julie is altesaam 70 450 ton mielies uitgevoer. Daarvan was 4 323 ton witmielies en 66 127 ton geelmielies. Geelmielies oortref die uitvoertempo wat nodig is om plaaslike uitvoervoorspellings te bereik. Kumulatiewe geelmielie-uitvoer wat vir die volgende agt weke voorspel word, indien dit realiseer, sal bo die vorige seisoene se uitvoerpas- sowel as die vyf-jaar gemiddelde uitvoerpas neig.
Sojaboon:
Die CBOT-sojaboonkontrakprys vir die naaste kontrakmaand het Maandagoggend met 2,45% gestyg.
Die vraag na eetbare plantaardige olies bly hoog regoor die wêreld, selfs teen die hoër pryse is Amerikaanse uitvoerverkope belowend. Wêreldwye sojaboonvoorraad bly egter styf. Beide Brasilië en Argentinië het die oes afgehandel. Die WASDE-verslag, wat Dinsdag vrygestel sal word, sal 'n meer presiese oorsig gee oor die globale vraag en aanbod van sojabone.
Die binnelandse sojaboonkontrakte het Maandagoggend met sterk opwaartse tendense verhandel. Die plaaslike sojaboonmark het vir lewering in Julie 2022 met R276/ton (+ 3,35%) hoër verhandel om uiteindelik te sluit op R8 510/ton.
Suid-Afrikaanse sojaboonprodusente het reeds 1 994 239 ton aan kommersiële silo's gelewer. Plaaslike produsente het 95% van die totale geskatte oes gelewer. Sojaboonlewerings is ver bo die vorige seisoen se lewerings, tot op datum, sowel as die driejaargemiddelde.
Koring:
Die CBOT-koringkontrakprys vir die naaste handelsmaand het Maandagoggend 6,65% hoër verhandel.
Amerikaanse koringkontrakpryse het ondersteuning gevind deur die depresiasie van die dollar, wat 'n 20-jaar hoogtepunt bereik het. Koringuitvoer uit die Europese Unie aan die begin van die 2022/23-bemarkingseisoen lyk belowend. Of die Europese Unie die tekort van die Oekraïense koringuitvoer sal kan vervang, is nog onseker.
Die binnelandse koringkontrakte het Maandag skerp opwaarts verhandel. Die plaaslike koringmark het vir lewering in Julie 2022 met R173/ton (+ 2,29%) hoër verhandel om uiteindelik te sluit op R7 730/ton. Die Desember 2022-koringkontrak het met R175/ton (+ 2,41%) hoër verhandel om uiteindelik te sluit op R7 435/ton.
Koringinvoer vir die week geëindig 1 Julie het 29 530 ton beloop. Die kumulatiewe totaal van koringinvoer vir die 2021/22-bemarkingsjaar beloop 1 239 406 ton. Die totale koringinvoer vir die 2021/22-bemarkingsjaar maak 84,0% van die beraamde invoer uit. Koringinvoer is tot dusver baie effens agter die vorige seisoentempo van 84,6% en voor die vyfjaar-gemiddelde van 66,4%.
Vir meer inligting oor die huidige kommoditeitsmark, besoek gerus Graan SA se webtuiste.
