On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

‘Nou het ek nie meer ‘n rede om te boer nie’

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Thu, 21 Jul 2022

‘Nou het ek nie meer ‘n rede om te boer nie’ | News Article

Die eienaar van die plaas Lismor buite Kestell in die Vrystaat, Alheit Smith, is gebroke nadat sewe mense, wat sy vrou insluit, verlede week op die plaas vermoor is.

Hy het aan OFM-nuus se Elsabé Richard-May gesê alles is van hom weggeneem en dat hy nie seker is of hy verder gaan boer nie. 

Sien onderstaande PODCAST

Ses van die slagoffers is vroue. ‘n 17-jarige seun tel ook onder die slagoffers.

LEES OOK: #NuusPasIn: Sewe mense op plaas buite Kestell vermoor

Smith en sy vrou het met beeste geboer, en hy woon reeds meer as 40 jaar op die plaas.

“Natuurlik het die [voorval] my ernstig geraak in die sin dat my hele lewe onder my uitgeruk is. Ek meen ek het hier geboer eintlik ter wille van my vrou. Ons het ons eie boerdery.

“So, nou het ek nie meer ‘n rede om verder te boer nie, want my vrou is nie meer daar nie, en ek is nou daar waar ek lankal moes aftree.

ALSO READ: #KestellFarmMurder: Suspects abandon bail, case postponed

“Ek het nou nie meer ‘n vrou om vir my te sorg nie. So, dis vir my baie onduidelik wat ons vorentoe gaan doen met die huis en alles, want ek kan nie alleen hier bly nie. Alles is nou onder my uitgevat. Alles!”

OFM-nuus het gedurende die naweek berig dat twee mans, wat 22 en 34-jaar-oud is, in hegtenis geneem is in verband met die moorde.

ALSO READ: #KestellFarmMurder: Free State premier to visit victims’ families

Polisiewoordvoerder, Motantsi Makhlele, sê hulle het daarin geslaag om die verdagtes binne 24 uur, nadat Smith Vrydag op die liggame van die slagoffers in ‘n huis op die plaas afgekom het, in hegtenis te neem toe die ondersoekspan inligting opgevolg het.

Die verdagtes is buite die Bohlokong-township buite Bethlehem in hegtenis geneem.

Hulle sal op 14 September weer in die Kestell-landdroshof verskyn, nadat hulle Woensdag 20 Julie hulle borgtogaansoek laat vaar het.

Volgens berigte is die verdagtes glo bekend aan die gemeenskap.

Smith sê hy hoop dat indien die verdagtes skuldig bevind word, hulle lewenslank tronk toe gestuur sal word.

OFM-nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.