Agriculture
Organisasie reik uit na boere in nood in Noord-Kaap─── 14:22 Mon, 24 Oct 2022
Ná die veldbrande wat verwoesting in die Noord-Kaap gesaai het, reik organisasies en ander boere uit na die boere wat swaarkry as gevolg van die veldbrande.
Chris van Beljon, die stigter van Boere Droogtehulp SA en Bring Hoop, verduidelik dat hulle die afgelope naweek boere gehelp het in die Noord-Kaap, spesifiek in Kuruman en die Kgalagadi- en Mier-distrik wat weiding verloor het.
Hy sê “dit is sowat 420 000 hektaar wat afgebrand het”. In die Mier-distrik is 118 000 hektaar afgebrand en in die Kuruman-omgewing is sowat 300 000 hektaar weiveld afgebrand, sê Van Beljon.
Hy voeg by: “talle diere het hulle lewens verloor en baie boere het ongelooflik baie verloor, behalwe vir die veld en natuurlik die diere. Ons is besig om die boere te ondersteun wie se plase basies heeltemal afgebrand het - soos 90% plus.”
LEES OOK: Kgalagadi-park loop deur onder veldbrand
Hulle het in die Kuruman-omgewing 20 boere gehelp met kuilvoer wat geborg is deur Winterstorm Kuilvoer.
Van Beljon sê ”hulle het na ons toe gekom en gesê hulle skenk soveel kuilvoer soos wat ons kan vir 'n maand lank kan aanry om daardie boere te help.
"Ons huidige probleem is dan natuurlik die vervoer van dit of dan nou die finansies om die trokke te huur en om brandstof te koop, maar ons is besig om te help en dan die naweek, Saterdag die 22ste [Oktober] gaan ons die boere in die Mier-distrik help.”
Daar is 24 boere wie se plase basies heeltemal afgebrand het. Van Beljon verduidelik dat hierdie opkomende boere in daardie area ook broodnodig hulp nodig het omdat die veld nie oornag sal herstel nie.
Hy sluit af deur te sê: ”as daar enigiemand is wat ons wil ondersteun, is hulle welkom om my te kontak by 082-961-6620, verkieslik op WhatsApp. Ek is self op 'n plaas en het net sein wanneer ek binne in die huis is nie. So as hulle my nie in die hande kry nie kan hulle my kontak op WhatsApp of op ons Facebook-blad gaan kyk, Boere Droogtehulp SA NPC en daar ook die nodige inligting kry.”
