Agriculture
Hier is van jou hoof landboustories op OFM─── ELSABÉ RICHARD 06:00 Fri, 23 Dec 2022
Ons kyk nou na jou week in die landboubedryf.
Die publiek word deur die Departement van Landbou gewaarsku om nie rondloperhonde en -katte op te tel of aan hulle te raak wanneer hulle hierdie feestyd reis na hoërisiko-provinsies nie. Woordvoerder Reggie Ngcobo sê hondsdolheid is veral algemeen in KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, Limpopo en Mpumalanga, asook op die grens tussen die Vrystaat en Lesotho.
TLU SA is bekommerd dat tyd besig is om uit te loop vir die implementering van die nasionale landelike veiligheidstrategie om resultate te lewer. Volgens die voorsitter van TLU SA se veiligheidskomitee,Hugo Pretorius, het dié strategie sy oorsprong in 2011. Hy sê verskeie weergawes van die strategie is daarna vrygestel, “met weinig impak” en dat werklike implementering nooit plaasgevind het nie. Pretorius sê dit is tans die produsent se verantwoordelikheid om sy eie veiligheid te verseker.
Suid-Afrika se Nasionale Dieregesondheidsforum het sy skeptisisme uitgespreek oor Onderstepoort Biologiese Produkte, oftewel OBP, se vermoë om voldoende entstowwe vir 2023 te produseer. Die redakteur van Farmer's Weekly, Janine Ryan, sê die voorsitter van die forum, Gerhard Schutte, sê OBP het versuim om voldoende volumes entstowwe te produseer binne die vereiste periode oor die afgelope paar jaar. Sy sê dit het die land se kudde-immuniteit in die gedrang gebring.
EN
2022 is amper verby en die hoof-uitvoerende beampte van Vrystaat Landbou, Gernie Botha, sê daar was vele hoogte- en laagtepunte. Botha sê hoewel die goeie reën aan die begin van die jaar positief was, het dit oor sekere dele te veel gereën, wat groot skade vir sommige produsente veroorsaak het. Wat 2023 betref, sê Botha, die organisasie is gereed vir enige uitdagings wat op sy pad kom.
