Agriculture
Hier is van jou hoof landboustories op OFM─── ELSABÉ RICHARD 06:00 Fri, 27 Jan 2023

Suiwelprodusente, asook die breë gemeenskap van Lichtenburg in Noordwes, ly steeds onder die verskuiwing van Clover se kaasfabriek na KwaZulu-Natal in 2021.
Dié besluit deur Suid-Afrika se grootste suiwelmaatskappy is blykbaar geneem op grond van swak dienslewering deur die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit. Agri Noordwes se Naudé Pienaar sê sommige suiwelprodusente is gedwing om ander kopers te kry vir hul melk. Oud-Noordwes premier, Job Makgoro, het destyds gesê die sluiting van Lichtenburg se Clover-aanleg wys dat munisipaliteite op dienslewering moet konsentreer. Ongelukkig mors hulle geld en dra nie by tot plaaslike owerhede se finansiële gesondheid óf gemeenskappe se welstand nie.
Die Departement van Landbou waarsku voornemende studente teen ongeregistreerde kolleges. Die departement het Woensdag getwiet sulke swendel-instansies is nie by die Departement van Hoër Onderwys geregistreer is nie. Studente moet daarop aandring om die instelling se registrasie-sertifikaat van die onderwysdepartement te sien. Kamma kolleges se sogenaamde kwalifikasies word gewoonlik nie erken deur die hoër onderwysdepartement nie.
Die DA in die Vrystaat het sy stem by talle ander gevoeg oor hoe beurtkrag die landbousektor lamlê. Dié party vra dat Eskom landbou in die provinsie verklaar as 'n noodsaaklike diens vir kragverspreiding. Vrystaat DA landbouwoordvoerder, Roy Jankielsohn, sê landbou in die provinsie is deurslaggewend vir die land se voedselsekerheid, daarom moet Eskom dit benader as 'n strategiese en noodsaaklike ekonomiese sektor. Volgens Jankielsohn verskaf die Vrystaat 'n tiende van al Suid-Afrika se landboukommoditeite, soos sorghum, sonneblom en mielies.
Abattoirs is afhanklik van krag, en bykomende uitgawes moet nou aangegaan word om kragopwekkers en diesel te bekom. Die SA Pluimveevereniging se Izaak Breitenbach sê solank fase 2 beurtkrag konstant toegepas kan word, sal produsente weet waarmee hulle mee te doen het.
EN
Die Departement van Arbeid doen 'n beroep op plaaseienaars, en werkgewers in die algemeen, om ten alle tye nodige veiligheidsmaatreëls in plek te hê. Minister Thulas Nxesi se versoek volg nadat hy gister plase in die Kakamas-omgewing in die Noord-Kaap besoek het waar werkers weens hitte-uitputting beswyk het. Die departement se Jason Lloyd sê hy vra dat werkers wat daagliks aan direkte sonlig blootgestel word, tydens werksure toegelaat moet word om te rus en genoegsame vloeistowwe in te neem om dehidrasie te voorkom.