Agriculture
Suid-Afrika se begrotingsraamwerk bly negatief, bestee meer as wat dit inkry─── ELSABÉ RICHARD 06:00 Wed, 22 Feb 2023
Die regering moet geld bestee aan onder meer infrastruktuur, paaie en toegang tot markte.
Dit is volgens Nedbank-streekbestuurder van landbou in die Vrystaat, Stephan Smith, in afwagting op die begrotingsrede wat op Woensdag 22 Februarie 2023 deur die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, gelewer sal word.
Godongwana se toespraak kom byna twee weke nadat President Cyril Ramaphosa die staatsrede gelewer het - 'n rede waar landbou-organisasies hoë verwagtinge gehad het.
Volgens Smith bly die huidige begrotingsraamwerk egter negatief aangesien Suid-Afrika meer geld bestee as wat dit inkry. Hy sê die testourie se skuld staan al op amper 70% van die Bruto Binnelandse Produk (BBP).
Hy stel voor dat die regering dus daarop moet konsentreer om die land se fiskale posisie te verbeter.
"Aan die inkomstekant verwag ons nie baie groei op internasionale handelsbelastings nie, juis weens die feit dat die vraag na kommoditeite wêreldwyd onder druk is.
"Die verhoogde rentekoerse plaas verdere druk op besighede en verbruikers. Plaaslik affekteer beurtkrag die ekonomie baie negatief en ons verwag ekonomiese groei van minder as 1%.
"Die ander vorm van inkomste is inkomstebelastings en daar word verwag dat meer effektiewe invordering die inkomste kan verhoog met 8% teenoor die begroting van 7,5%.
"Die belangrikste faktor bly egter Suid-Afrika se uitgawes. So, met die loonverhogings van staatsinstansies ver bo inflasie, die ramptoestand wat verder verleng is en dan ook reddingsboeie aan staatsbeheerde instansies, is dit uitdagend om binne die begroting te bly," sê Smith.
Die belangrikheid van landbou in die ekonomie
Volgens Smith word die landbousektor se bydrae tot die Bruto Binnelandse Produk (BBP) geskat as minder as 3% op primêre vlak, maar sê egter wanneer daar na die hele waardeketting gekyk word, is landbou se bydrae heelwat meer. Veral in die platteland, waar landbou die lewensaar van meeste huishoudings en besighede is.
Verder is voedselsekerheid van groot belang vir Suid-Afrika om volhoubare kos te produseer wat bekostigbaar is.
Hy waag enkele voorspellings vir die begrotingsrede:
- Persoonlike inkomstebelastings: Smith verwag dat persoonlikeinkomstebelastings tot vlakke laer as inflasie sal styg.
- Brandstofheffing en die padongelukfonds sal volgens hom waarkynlik hoër as inflasie verhoog word omdat dit in 2022 onverandered was.
- Aksynsbelasting op tabak en alkoholiese produkte sal na verwagting ook tot bo inflasie styg.
- Tesouriebelastingtoegewings aan beleggings in hernieubare energie.
Ander areas waar Smith van mening is die regering geld moet bestee:
- Infrastruktuur, watervoorsiening, paaie, spoorweë, uitvoer, toegang tot markte, vervalle munisipaliteite, administrasie, verbetering in diensverskaffing en sekerheid oor grondhervorming en landboubeleidstellings, effektiewe benadering vir dieresiektebeheer en die fokus op transformasie, wat insluit gunstiger finansiering en befondsing wat beskikbaar gestel word vir opkomende boere.
Vrystaat Landbou (VL) het intussen versoek dat Godongwana gemeenskappe moet vergoed vir basiese dienste wat hulle sélf moet lewer. Dit sluit in die regmaak van paaie. Die organisasie het sy kernvoorstelle, wat hy reeds by die ministerie ingedien het, in 'n verklaring bekend gemaak.
"Aanvaar dat waar boere die paaie herstel, hulle die diesel en uitgawes as boerdery-uitgawes opgee, dit afgetrek word. Indien nie, moet dit 'n belasting-aftrekbare uitgawe wees. Dieselfde geld vir misdaad- en sekuriteitsuitgawes.
"Toestemming om al hul eie hernieubare energie-installasies op te rig, koste af te trek as boerdery uitgawes.
"Waar boere se BTW en inkomstebelastingopgawes geoudit word, moet terugbetalings so gou moontlik gedoen word, aangesien dit talle boere onder ernstige kontantvloeidruk plaas as dit vir maande vertraag word."
Die begrotingsrede sal na verwagting om 14:00 uitgesaai word.
