Agriculture
Hier is van jou hoof landboustories op OFM─── ELSABÉ RICHARD 06:00 Fri, 10 Mar 2023
Ons kyk nou na jou week in die landboubedryf.
Die Vrystaatse Departement van Landbou sê dit gaan 'n interne ondersoek instel ná berigte oor 'n trop melkkoeie wat sonder kos, water en veeartsenykundige behandeling gelaat word by die geïntegreerde melkplaas by Vrede.
Die Noord-Kaapse Departement van Landbou moes vandeesweek sy kantore sluit weens ‘n staking deur lede van die vakbond Nehawu. Die staking het Maandag regoor die land begin. Lede is ontevrede oor salarisse en ander voordele.
Misdadigers trek nou voordeel uit hoër vlakke van beurtkrag in boerderygemeenskappe. Vrystaat Landbou se veiligheidsrisiko-analis, dr. Jane Buys, sê hulle kry toenemend klagtes van boere rakende die nie-beskikbaarheid van selfoonseine of -netwerke in hul areas gedurende beurtkrag, wat kommunikasie bemoeilik. Buys sê hulle het 'n opname gedoen oor die misdaad wat gedurende beurtkrag in landelike gemeenskape gepleeg word.
Die landboubedryf het in die vierde kwartaal van 2022 met 3,3% gekrimp en het -0,1 van 'n persentasiepunt minder tot die Bruto Binnelandse Produk-groei bygedra. Statistieke Suid-Afrika se jongste BBP-syfers toon landbou was een van die sewe bedrywe met negatiewe groei.
Die Oranjerivier Landbou-unie-president Wilco Fourie sê hoewel 'n aansienlike afname in die vlak van die rivier ervaar word, bly oorstroomde wingerde steeds ontoeganklik. Hy sê verwerking en aktiwiteite sal onbepaald nie kan voortgaan nie.
EN
Noordwes-polisie is steeds opsoek na verdagtes ná die moord op 'n bejaarde boer in die Potchefstroom-omgewing. Polisiewoordvoerder, Sam Tselanyane, sê die 74-jarige slagoffer Johan Bekker se Mercedes-nutsvoertuig is ook nog nie gevind nie. Bekker is vroeg in Februarie op sy kleinhoewe in Vyfhoek vermoor, vermoedelik deur vier mans wat op die eiendom werk.
