Agriculture
Landbounuus-podcast: Pogings onderweg om krokodil by rioolwerke-fasiliteit te hervestig─── ELSABÉ RICHARD 16:07 Wed, 15 Mar 2023
Die omgewingsbewaringsorganisasie Owl Rescue Centre is besig om 'n wilde krokodil wat by rioolwerke in Noordwes woon, te hervestig.
Die organisasie se Brendan Murray sê dié krokodil het van Rooikoppiesdam beweeg na die nabygeleë geriewe. Hy sê die krokodil bly nou al vir twee weke by die rioolwerke.
Kanse vir baie swaar reën wat verdere vloede langs die Benede-Oranje- en Vaalrivier kan veroorsaak, is skraal, hoewel damme nog propvol is en van die riviere wat nog in vloed is. Onafhanklike landbouweerkundige, Johan van den Berg, sê die kanse is goed dat ‘n El Niño-verskynsel – die teenoorgestelde van ‘n La Niña – kan ontwikkel van Augustus/September.
Landbou, tesame met ander sektore wat goedere in- en uitvoer, word geraak deur Suid-Afrika se gryslys-status. Bongi Kunene van die Bankvereniging van Suid-Afrika sê egter dis nou te vroeg om definitief te sê wat dit vir elke sektor gaan beteken. Volgens Kunene het die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, na dié nuus homself daartoe verbind dat die land teen Januarie 2025 van die gryslys verwyder sal word.
Slagpryse is steeds onder druk, terwyl bokpryse weer effens gedaal het gedurende die week. Volgens landbou-ekonoom, Johnny van der Merwe, het varkvleispryse sywaarts beweeg.
EN
'n Geskatte 12,7 miljoen 17 kg kartonne pomelo's sal na verwagting gedurende die komende seisoen uitgevoer word. Dit is 'n afname van 2,1 miljoen in vergelyking met 2022. Die uitvoerende hoof van die SA Sitrus-kwekersvereniging, Justin Chadwick, sê een van die redes vir die daling is dat baie streke nie beplan om vrugte vir verwerkingsdoeleindes vir uitvoer vanjaar te pak nie.
