Agriculture
Nederlandse boere betoog teen grondonteiening─── ELSABÉ RICHARD 08:19 Wed, 29 Mar 2023
Suid-Afrika het die afgelope tyd betogings in verskeie provinsies gesien, maar dit is nie uniek aan net dié land nie.
Boere in Nederland het ook die land se strate ingevaar om te betoog teen die regering wat beplan om tussen 2 000 tot 3 000 plase te onteien, hetsy deur vrywillige verkope of indien nodig deur verpligte aankoopbestellings.
Die president van Agri Noord-Kaap Nicol Jansen sê hy hou met belangstelling die verwikkelinge dop waar daar ook bewusmaking en betogings plaasvind teenoor die huidige regering se klimaatsveranderingsbeleid.
Die regering wil duisende plase onteien om 'n impak te maak op stikstofvrystelling as bydraende faktor tot klimaatsverandering, sê Jansen.
"Boere het begin hoop verloor in hul stryd teen die regering se klimaatsveranderingsbeleid... al begin hoop verloor in die ondersteuning van die bevolking wat hulle van voedsel en vesel voorsien."
LEES OOK: AfriForum verwerp voorgestelde Wetsontwerp op Onteiening
The Guardian het in November 2022 berig die Nederlandse regering bied aan om tot 3 000 "piekbesoedelaar"-plase en groot industriële besoedelaars uit te koop in 'n poging om ammoniak- en stikstofoksiedvrystellings, wat onwettig is ingevolge Europese Unie (EU)-wetgewing, te verminder.
Volgens APLF het Nederland die limiete op stikstofvrystellings, wat deur die EU gestel is, oortree en moet nou maatreëls tref om vrystellings te verminder sodat die land aan heersende omgewingsregulasies kan voldoen. APLF sê verder dit blyk egter of "die regering die wettige roete volg om plaas- en veegetalle met geweld te verminder met die oog op die voltooiing van die voorgestelde aanvanklike sluiting van drieduisend plase gedurende 2023."
LEES OOK: Agri SA wil hê onteieningswetsontwerp moet heroorweeg word
Onteiening in Suid-Afrika
Agri SA sê die onteieningswetsontwerp hou potensieel katastrofiese gevolge in vir die landbousektor en voedselsekuriteit in Suid-Afrika. Die organisasie het kommentaar oor die wetsontwerp by die Nasionale Raad van Provinsies (NRVP) ingedien.
“[Ons] voorlegging volg op die aanvaarding van die wetsontwerp in die Nasionale Vergadering, waarna dit na die NRVP verwys is. Sou die NRVP die wetsontwerp goedkeur, sal dit dan aan die President gestuur word vir [goedkeuring], waarna dit wet in Suid-Afrika sal word,” sê Ramp- en Risikobestuurder Andrea Campher.
Sy sê hulle is veral bekommerd oor die definisie van onteiening, asook artikel 12, wat handel oor vergoeding vir onteiening en spesifiek artikels 12(3) en 12(4) van die wetsontwerp.
“Die verswakking van eiendomsreg sal kapitaalverkryging uiters moeilik maak vir boere in 'n sikliese sektor wat afhanklik is van die vermoë om eiendomsreg te benut om toegang tot bedryfskapitaal te verkry."
