Agriculture
Agri SA wil hê onteieningswetsontwerp moet heroorweeg word─── ELSABÉ RICHARD 08:19 Wed, 08 Mar 2023

Die onteieningswetsontwerp hou potensieel katastrofiese gevolge in vir die landbousektor en voedselsekuriteit in Suid-Afrika.
Dit is volgens Agri SA nadat dit kommentaar oor die wetsontwerp by die Nasionale Raad van Provinsies (NRVP) ingedien het.
LEES OOK: AfriForum verwelkom mislukking van grondonteieningswetsontwerp
Die voorlegging dui op die potensieel katastrofiese impak van die wetsontwerp op die landbousektor en die land se voedselsekuriteit as dit deur die Parlement aanvaar word, sê Agri SA se Ramp- en Risikobestuurder, Andrea Campher.
“[Ons] voorlegging volg op die aanvaarding van die wetsontwerp in die Nasionale Vergadering, waarna dit na die NRVP verwys is. Sou die NRVP die wetsontwerp goedkeur, sal dit dan aan die President gestuur word vir [goedkeuring], waarna dit wet in Suid-Afrika sal word.”
Die organisasie het in sy voorlegging uitgelig dat die wetsontwerp ‘n nadelige impak op die landbousektor en die land se ekonomie sal hê. Agri SA sê dit is veral bekommerd oor die definisie van onteiening asook artikel 12, wat handel oor vergoeding vir onteiening en spesifiek artikels 12(3) en 12(4) van die wetsontwerp.
“Die verswakking van eiendomsreg sal kapitaalverkryging uiters moeilik maak vir boere in 'n sikliese sektor wat afhanklik is van die vermoë om eiendomsreg te benut om toegang tot bedryfskapitaal te verkry.
ALSO READ: National Assembly adopts Expropriation Bill
“Hierdie ondermyning van die lewensvatbaarheid van beide gevestigde, opkomende en nuwe produsente kan lei tot 'n katastrofiese ineenstorting van die land se voedselsekerheid.
“Suid-Afrika staar reeds aansienlike bedreigings in die gesig vir voedselproduksie in die vorm van aansienlike inflasionêre druk, beurtkrag en verswakkende infrastruktuur. Hierdie uitdagings is vererger deur omgewingsverskynsels, insluitend vloede, droogtes en sprinkaanplae.”
Campher sê behalwe vir voedselsekerheid, sal die onteieningswetsontwerp ook die einste doelwit wat dit wil bereik, ondermyn, naamlik die transformasie van die landbousektor.
ALSO READ: Land expropriation bill: Sluggish section 25 committee gets more time
Sy verduidelik dat sonder grondwetlik beskermde eiendomsreg sal minder opkomende boere toegang hê tot die kapitaal wat nodig is om volhoubare boerderybedrywighede te bou.
“Gevestigde sowel as nuwe toetreders tot die landbousektor sal te doen hê met 'n regsreg wat enige oomblik van hulle ontneem kan word.
“Die ekonomiese gevolge van die wetsontwerp strek ook veel verder as die landbousektor. Met verminderde voedselproduksie sal die behoefte aan verhoogde voedselinvoer tot nadeel van ons nasionale handelsbalans kom.
Die gevolglike netto uitvloei van geld uit die plaaslike ekonomie sal minder inkomste vir die fiskus wees, wat lei tot die vermindering van broodnodige hulpbronne om die infrastruktuur en instellings te herbou, en om dienslewering aan die armstes in Suid-Afrika te verbeter.”
Kommentaar rakende die wetsontwerp het reeds 6 Maart gesluit. Campher sê Agri SA vertrou dat die NRVP ag sal slaan op hierdie kritieke waarskuwing, en dat die regering “hierdie vernietigende wetgewende eksperiment sal heroorweeg.”