Agriculture
Vrystaatse Jongboer van die Jaar sê passie vir landbou borrel al van kleintyd─── ELSABÉ RICHARD 09:30 Mon, 24 Apr 2023

Die 26-jarige Lukas Lessing is onlangs as Vrystaat Landbou (VL) se 27ste Jongboer van die Jaar aangewys.
Lukas en sy vrou, Marné, boer in Marquard met vee sowel as gewasse.
Marné het veral 'n groot liefde vir vee en staan nie terug om die lewendehawe-afdeling van die boerdery aan te pak nie.
“In ons deel van die Oos-Vrystaat moet ons ongelukkig altwee (vee en saaiboerdery) doen. Ons plaas is nie geskik vir net een van die twee nie, maar gelukkig het ek ‘n wonderlike vrou wat lief is vir die veevertakking," sê Lukas trots.
Marné Lessing FOTO: Verskaf
Lukas se passie vir die landbousektor bestaan reeds van kleins af. Hy sê: "Landbou was nog altyd in my bloed en daar was niks anders wat ek wou doen nie. Alles wat ek doen, gaan rondom landbou."
Ten spyte van uitdagings soos die swak toestand van Vrystaatse paaie, wisselvallige kommoditeitspryse en hoë insetkoste, wat baie boere se beursies ook knou, boer hy steeds volstoom voort.
“Ek hoop om hierdie kompetisie te gebruik as ‘n stepping stone om ‘n verskil te maak in ons land [en] in ons sektor. Om rerig ‘n verskil te kan maak vir ander jongboere wat op pad is."
Lukas dring nou outomaties deur na Agri SA/Toyota SA se Nasionale Jongboer van die Jaar-kompetisie.
Vanjaar se Jongboer-kompetisie finaliste
VL sê kandidate is 'n aanwins vir hul onderskeie gemeenskappe vanweë hulle vasberadenheid en passie vir wat hulle doen.